Veilige skuilings vir diere in nood
Purrpaws for Life Rescue Centre het wel 'n paar kampe op die perseel met skuilings en hondehokke, maar dit is nie genoeg vir al die honde in hul sorg nie.
SASOLBURG – Purrpaws for Life Rescue Centre het die gemeenskap se hulp nodig om nog veilige skuilings vir die diere in hul sorg op te rig.
“Ons reik uit na ons wonderlike gemeenskap vir skenkings van sinkplate (nuut of voorheen gebruik, solank dit nog in ‘n bruikbare toestand is). Ons wil graag weerbestande skuilings bou waar ons honde kan skuiling soek teen die son, koue, wind en reën,” vra die direksie van die organisasie.
Danksy plaaslike sakeman Fanie de Jongh spog die sentrum ook nou vir die eerste keer met ‘n perdekamp.
“Wat as ‘n dringende behoefte begin het, word stadig maar seker ‘n veiliger, beter tuiste vir ons perde.
Ons eerste kamp is nou toegemaak met die heining en staalbalke wat deur Fanie geskenk is.
“Ons bedank Fanie uit die diepte van ons harte. Daar lê nog baie werk voor, maar jou goedheid het ons gehelp om die eerste belangrike stap te neem om vir ons perde die veilige kamp en behoorlike skuiling te gee wat hulle verdien.”

Items wat benodig word
Sinkplate
Nuwe of tweedehandse hondehokke
Staalpale, balkies of boumateriaal
Skroewe en dakhegstukke
“Iets wat stof opgaar by jou huis of besigheid kan ‘n veilige, skuiling word vir ons honde. Elke bydrae of skenking sal opreg waardeer word.”
Inwoners wat kan help, word gevra om PurrPaws For Life Rescue Centre by 083 650 9558 te kontak.