Armand Steenkamp se liedjie wys ons wie Johanna Van Saldanha was
Hierdie is 'n hartroerende liedjie - maar met 'n lekker lewendige ritme - wat die verhaal van 'n merkwaardige vrou vertel.

Afrikaanse kunstenaar Armand Steenkamp het onlangs sy nuwe enkelsnit, “Johanna Van Saldanha”, vrygestel. Die liedjie is geïnspireer deur wyle Worsie Visser se Liedjie “Gee Hom Gas Johanna”, en is ‘n eerbetoon aan die wonderlike vrou wat aan die Weskus van Suid-Afrika gewoon het.
Armand het die liedjie geskryf nadat hy een oggend by ‘n vriend in sy braaikamer in Langebaan gesit en kuier het. Daar het hy aan Worsie Visser se liedjie gedink en homself afgevra wie die Johanna was, wat almal so gas gegee het. Hoe sy gelyk het en wat het sy gedoen? Armand het nog altyd gesê as jy in die Boesmanlad grootgeword het, moet jy ‘n bietjie van ‘n verbeelding hê, so hy het self die storie van Johanna bymekaargesit en die resultaat is ‘n nostalgiese liedjie wat die luisteraar na ‘n ander era wegvoer.
Armand Steenkamp het grootgeword in die Boesmanland, tussen Pofadder, Kliprand en die Namaqualand. Sy naaste skool was op Springbok, waar hy rugby wou speel, sing en waar hy onsuksesvol moes leer Engels praat. Vandag is hy ‘n gewilde kunstenaar landswyd, en sy konsertgangers sien telkemale die son opkom as hulle die aand saam met hom omkuier. “Solank ek nie Engels hoef te praat nie,” sê hy.
Armand het sy bekendheid verwerf met liedjies soos Diep Steek En Lank Lê, Ek Kan Nie Dans Nie Maar Ek Kan Vry, Lekker Mens en nog vele meer .
Johanna Van Saldanha vertel die verhaal van Johanna, wat op ‘n trawler-skuit gewerk het. Sy was ‘n taai vrou wat heelweek op die see gewerk het, en partykeer het sy selfs heeldag nette getrek. Johanna het haar voortande verloor maar haar glimlag en hart van goud het haar ‘n gunsteling onder die Weskusmanne gemaak. Sy het haar man uiteindelik in die pad gesteek en hulle huwelik beëindig. Toe sy later op ‘n trawler-skuit werk, het sy stil gesterf. Vandag spook Johanna in die middel van die nag op die Weskus, en haar lag word nog steeds gehoor wanneer die wind waai.
“Johanna Van Saldanha” is ‘n hartroerende liedjie wat die verhaal van ‘n merkwaardige vrou vertel. Die liedjie is nou beskikbaar op alle groot musiekplatforms en is ‘n moet-hê vir enige Afrikaanse musiekliefhebber.
Met die bekendstelling van die nuwe enkelsnit, het Armand Steenkamp ook genoem dat daar meer liedjies hierdie jaar sal bekendstel.
Luister dit hier: https://vyd.co/Johannavansaldanha
Kyk die video hier: https://youtu.be/uz6IaDlBqmQ
PLATEMAATSKAPPY:
Vonk Musiek

