Local newsNews

Kookrus-man se keel afgesny, ‘motief nog onbekend’

‘n Man van Kookrus wie se keel afgesny is se lewelose liggaam is Sondagaand deur sy susterskind in die badkamer van sy huis Louis Trichardstraat ontdek.

MEYERTON. – Die polisie van Meyerton ondersoek ‘n saak van moord nadat Lucas Brits (48) se lyk kort na 19:00 Sondagaand (21 Mei 2023) in sy bad ontdek is.

Volgens sers. Shaan Motsapi, ‘n polisiewoordvoerder, het Brits ‘n snywond aan sy nek gehad.

Brits se susterskind, Juan Meyer (30), het blykbaar Sondagaand by sy oom se huis aangegaan nadat hy onraad vermoed het.

“Die familielid het by sy oom se plek verbygegaan, iets vreemds opgemerk en besluit om na die huis te gaan en te kyk wat fout is.

“Toe hy die badkamer binnegaan het hy tot sy ontsteltenis sy oom se lewelose liggaam in die bad aangetref met ‘n oop wond aan sy nek,” lui ‘n verklaring wat intussen deur die polisie uitgereik is rondom die saak.

Volgens Motsapi is die motief vir die moord in hierdie stadium nog onbekend.

‘n Saak van moord word ondersoek, maar geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisie het ‘n beroep op mense met inligting wat tot die inhegtenisname van die verdagte/s kan lei gedoen om met hulle in verbinding te tree.

Mense met inligting kan 08600 10111 skakel, die naaste polisiestasie besoek of die MySAPS-toepassing gebruik om inligting anoniem deur te gee.

Volgens Brits se swaer, Koos Meyer, sal Brits se begrafnisdiens Vrydag om 10:00vanuit die Nederduitsch Gereformeerde Gemeente Kookrus plaasvind.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button