Dodelike siekte bedreig nou ook hase en konyne in die Vaal
Gevalle van haasvrektes in Midvaal en Vereeniging is reeds bevestig, en ongewone vrektes in Vanderbijlpark en Sasolburg word ook ondersoek
‘n Dodelike hemoragiese siekte onder hase en konyne wat in November verlede jaar vir die eerste keer in die Suid- en Oos-Kaap aangemeld is, het intussen ook na ander provinsies, insluitend die Vaaldriehoek, versprei.
Die siekte, wat in Engels as Rabbit Hemorrhagic Disease (RHD) bekendstaan, word deur die Calici-virus veroorsaak. RHD is in 1986 vir die eerste keer onder Europese hase in Italië aangeteken, vanwaar dit na die res van Europa en Afrika versprei het.
Volgens die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Gauteng kom die siektes tans in ‘n groot geografiese gebied, insluitend die Vaaldriehoek voor. Die Staatsveearts het die vrektes van groot getalle hase en konyne in Midvaal en Vereeniging ondersoek en volgens die departement is daar bevestiging dat hulle aan RHD dood is. Gevalle van haasvrektes in Vanderbijlpark en Sasolburg word ook ondersoek maar is nog nie amptelik bevestig nie.
Die siekte veroorsaak bloeding in aangetaste konyne en hase se organe soos die lewer, niere en milt, en lei tot die skielike dood van sulke diere. Die virus is in die mis en urine van siek diere en word versprei deur aanraking, inname of inaseming. Die virus tas nie mense, voëls, ander diere of insekte aan nie, maar almal kan as draers dien wat die siekte versprei. Die virus is uiters weerstandig en kan selfs in ysige temperature en sonder ՚n draer oorleef. Dit hou veral ‘n groot gevaar vir die kritiek-bedreigde oewerkonyn (Bunolagus monticularis) in, maar ook vir ander inheemse spesies soos die rooiklipkonyn, vlakhaas en kolhaas.
In ‘n skrywe wat deur dr. Jaison Mpofu van die Staatsveeartsenydienste uitgereik is, kan konynboere en eienaars van troetelhase bydra om hul diere veilig te hou deur enige kontak met ander hase, haaskolonies of besmette toerusting te vermy. Konyneienaars en boere word aangeraai om vinnig van dooie diere ontslae te raak deur verbranding, of hulle diep te begrawe. Dooie hase moet minstens 1,5 meter diep en minstens 100 meter van die naaste dam, rivier of vlei begrawe word. Die mis, hooi en beddegoed van dooie diere moet ook verbrand word. Eienaars of werkers moet hul hande daarna met seep en warm water was, veral as handskoene nie gebruik is nie. Enige toerusting soos kruiwaens of grawe wat gebruik is, moet in ‘n 10% bleikmiddel gewas word. Karkasse moenie in yskaste of vrieskaste gehou word nie.
“Implementeer biosekuriteitsmaatreëls om u konynkolonies te beskerm, byvoorbeeld deur ‘n voetbad met ontsmettingsmiddel by in- en uitgangspunte, en deur isolasie van siek diere. Nuwe diere wat by bestaande konynkolonies gevoeg gaan word, moet ten minste eers 14 dae in isolasie bly om te verseker dat hulle nie siek is nie,” is dr. Mpofu se raad.
Hy sê daar is tans geen behandeling vir die siekte nie, maar inenting is by sommige private veeartse beskikbaar.
Inligting vir die berig is beskikbaar gestel deur: Proagri.co.za, die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Gauteng, Gauteng Rabbit Breeders Association, Confederation of Africa Rabbit Breeders en Vaal Rabbits.

Foto: Illustrasiefoto: Ranching South Africa
