Local newsNews

Liewe Lulu se tweede kans op die lewe

Liewe Lulu se storie lees ampers soos 'n sprokie.

VAALPARK. – Lulu, ‘n driejarige Warrior Terrior, is Donderdag, 14 Maart onverwags met haar gesin herenig. Die Nels het gedink Lulu is uitgesit.

Dit was nadat sy begin Februarie haar eetlus verloor het en net nie meer hul baldadige Lulu was nie.

Ons het die Sondagmiddag by die huis gekom en Lulu het net in ‘n bos in ons tuin gelê. Gewoonlik is sy opgewonde om ons te sien en sal selfs in die motor probeer spring,” vertel Theresa Nel.

Theresa het haar die Maandagoggend na Stokkiesdraai Veearts geneem, waar daar dadelik met toetse begin is.

“Hulle het haar op ‘n drip gesit, want sy het reeds tekens van dehidrasie getoon. Sy was nie vergiftig nie en het ook nie bosluiskoors gehad nie.

“Die veearts het geopereer, maar kon niks vind nie, behalwe dat daar erge ontsteking in haar derms was.”

Vir die volgende paar weke was Lulu kort-kort in die hospitaal waar sy binneaars medisyne ontvang het. Sodra sy bietjie beter gelyk het, is sy ontslaan, maar eet wou sy nie.

“Dit was verskriklik. Sy het al hoe maerder geword,” vertel Theresa. Uiteindelik is daar besluit om Lulu liewer uit te sit.

Die Nels het met swaar harte afskeid geneem en het oor haar getreur totdat Theresa 14 Maart ‘n oproep gekry het.

Dr Norman Datnow het gesê een van sy kollegas het gedroom dat hulle Lulu nog ‘n kans moes gee.

Dr Albert Gwari het weer geopereer in plaas daarvan om haar uit te sit. Die keer het hulle ‘n muurbal-bal in haar derms gekry.

Die muurbal-balletjie wat byna Lulu se lewe gekos het.

Die veearts het vir Lulu in die hospitaal gehou en seker gemaak sy is sterk genoeg om huis toe te gaan voordat hy vir Theresa geskakel het.

“Ek was oorstelp van vreugde. Ons almal was. Ek sal Stokkiesdraai Veearts se mense vir altyd dankbaar bly. Hulle het nie moed opgegee op Lulu nie

“Hulle gee regtig om, vir hulle gaan dit nie oor geld nie,” sê Theresa. “Ons kan nog ‘n kans hê met ons hond. Ons Lulu het huis toe gekom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button