Van posbus tot pionier – Die verhaal van Hood Farmacy
Wat begin het as ’n geheime posbusstelsel, het ontwikkel in ’n groeiende ketting van winkels wat nie net produkte verkoop nie, maar lewens verander.
MEYERTON – In die hartjie van Meyerton se nuwe Riverstone Mall is ’n winkel wat veel meer is as net ’n cannabis-maatskappy.
Hood Farmacy, gestig deur Shaun Holmes en sy lewensmaat Clarissa, is ’n simbool van hoop, genesing en gemeenskapsgees – ’n verhaal van veerkragtigheid en liefde, gesetel in die snelgroeiende cannabis bedryf van Suid-Afrika.
Vier jaar gelede was Shaun nog die geheimsinnige “posbusman” wat saam met sy broer, Douglas, dagga vanaf hul ma se erf buite Henley on Klip verkoop het.
Klante het hul bestellings via EFT betaal, en Shaun het dit in gemerkte posbusse gepak – ’n stil, riskante onderneming in ’n tyd toe cannabisverkope nog onwettig was.

Vandag, met agt winkels (insluitend drie in Meyerton, en ander in Drie Riviere, Walkerville, Henley on Klip, Alberton en Heidelberg), is Hood Farmacy op pad om Suid-Afrika se eerste wettige cannabiswinkel by OR Tambo Internasionale Lughawe te open.
Saam het Shaun en Clarissa nie net ’n besigheid gebou nie, maar ook ’n beweging. Clarissa – die selferkende “pers pitbull” – beskerm en bestuur die onderneming met ’n passie wat diep gewortel is in persoonlike transformasie.
“Ons het altwee uit armoede en dwelms gekom,” sê sy. “Nou help ons ander om los te breek.”
Hood Farmacy skenk 35% van hul wins aan liefdadigheid. Shaun is bekend daarvoor dat hy hulp bied aan enigiemand in nood, selfs al beteken dit verlies aan inkomste.
“Shaun lyk soos ’n gangster,” sê Clarissa, “maar hy het die sagste hart van almal.”
Met produkte soos Lion’s Mane, Sceletium en medisinale pre-rolls, fokus die winkel op genesing – fisies en geestelik, en met Ubuntu Smoke, hul lughawe-projek in wording, wil hulle bewys cannabis kan wettig en eties wees en vir ‘n goeie doel aangewend word.
