News

Tamaai slaggat in Drie Riviere lei tot chaos in spitsverkeer

’n Reusagtige, watergevulde slaggat op een van Drie Riviere se belangrikste roetes het Maandagoggend verkeerschaos veroorsaak. Die DA beplan ‘n ‘swempartytjie om aandag op die probleem te vestig.

VEREENIGING – ’n Massiewe slaggat op die hoek van Houtkopweg en Kliprivierrylaan in Drie Riviere het Maandagoggend weer die erns van Emfuleni se vervalle padinfrastruktuur in die kollig geplaas.

Die pad, een van die belangrikste toegangsroetes na Drie Riviere – Emfuleni se hoogste belastingbetalende wyk – is al maande lank in ’n ernstige toestand van verval.

Bestuurders waag dit deur Drie Riviere se watergevulde ‘swembad’.

n Groot, watergevulde gat lê in die middel van die driepad-kruising, en die modderige water maak dit feitlik onmoontlik vir motoriste om die diepte daarvan te bepaal.

Maandagoggend het die gevaarlike slaggat sy jongste slagoffer geëis toe ’n vragmotor wat motors vervoer daarin vasgeval het.

Die massiewe slaggat op die hoek van Houtkopweg en Kliprivierrylaan in Drie Riviere.

Die voertuig het vasgesit en verkeer vir byna ’n uur tydens die oggendspits ontwrig, met voertuie wat gedwing is om gevaarlik om die toneel te manoeuvreer.

Verskeie inwoners het uit frustrasie vertel dat hulle dié kruising al lank as ’n “rampgebied” beskryf, veral ná periodes van swaar reënval.

Te midde van die voortdurende verval beplan die Demokratiese Alliansie ’n protesaksie om aandag te vestig op die padtoestand. Die DA sal op Donderdag 4 Desember 2025, van 14:00 tot 16:00, ’n sogenaamde “swempartytjie” by die slaggat hou.

Die gebeurtenis word bemark met die slagspreuk: “Fix the broken roads in Emfuleni. Join the DA for a pool party at Emfuleni’s newest pool – Three Rivers Road.”

Inwoners word aangemoedig om die aksie by te woon om druk op die munisipaliteit te plaas om dié pad, en die breër netwerk van vervalle paaie in Emfuleni, dringend te herstel.

‘n Uitnodiging na die DA se swempartytjie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button