Sogenaamde “motorwerktuigkundige” in hof vir motordiefstal
Die beskuldigde het tydens sy eerste hofverskyning sy gesig met ’n pet probeer bedek.
MEYERTON –’n Man wat glo voertuie sou herstel, maar dit sonder die eienaars se toestemming verkoop het, het Donderdag in die Vereeniging-streekhof verskyn op ’n aanklagte van motorvoertuigdiefstal.
Volgens ’n privaatondersoeker wat hom opgespoor het, is Shane Christopher Ward veral berug in die Vaaldriehoek, Vryburg en Potchefstroom vir sy beweerde misdade. Onder sy beweerde slagoffers tel glo vroue en bejaardes.
Hy het volgens die klaers herstelwerk aangebied, maar die motors sonder hul medewete verkoop.
Ward het in die beskuldigdebank ingeskuif in ’n grys hemp met die woorde “Paradise Forever”. Die saak is tot 6 Februarie uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek, en Ward bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.
Vaalweekblad het verlede jaar inwoners van Meyerton ontmoet wat hul ervaring met Ward gedeel het. Tientalle het in daardie tyd gedreig om klagtes teen hom in te dien.

Die polisie het na bewering aan inwoners gesê dat die aangeleentheid van ’n siviele aard is.
Laat verlede jaar het een van die klaers, Belinda-Lee Coetzee, op Facebook geplaas dat ’n lasbrief vir Ward se inhegtenisneming uitgereik is in verband met ’n saak wat by Meyerton SAPD geregistreer is.

Volgens Rodney van Rensburg, ’n private ondersoeker van ISS Investigations wat gehelp het om hom aan te keer, is Ward ná ’n lang ondersoek opgespoor na bewerings van soortgelyke misdrywe in Meyerton, Vryburg en Potchefstroom.
Van Rensburg het bevestig dat Ward uiteindelik in Bloemhof in hegtenis geneem is voordat hy aan speurders van die voertuigdiefstaleenheid verbonde aan Meyerton en Vereeniging oorhandig is.

By die hof het landdros Chris Kruger toestemming verleen dat foto’s van die beskuldigde geneem mag word. Ward het egter probeer om sy gesig agter ’n pet weg te steek.
Twee klaers van Meyerton was by die hof teenwoordig. Coetzee (53) het beweer dat Ward haar unieke VW Beetle onder die voorwendsel van herstelwerk kom haal het en dit daarna sonder haar toestemming verkoop het. Sy het gesê Ward het haar versoek om die voertuig se dokumente, wat glo die verkoop moontlik gemaak het.
Nog ’n klaer, Lindy Keen (51), het beweer dat Ward haar Opel Corsa Lite geneem het om herstelwerk te doen, maar dit later sonder haar toestemming aan ‘n man van Boltonwold verkoop het. Sy het gesê sy kon uiteindelik die voertuig terugkry.
Die ondersoek duur voort.
Mense wat meen hulle is op ’n soortgelyke wyse benadeel, kan privaatondersoeker Rodney van Rensburg by 061 642 4908 kontak.

