Eerste skoot klap vir AVT-landloopliga in Mei
AVT se 2026-landloopliga skop op 23 Mei af met groot verwagtinge ná verlede jaar se medaljesukses op nasionale vlak.
VANDERBIJLPARK – Die eerste skoot vir Atletiek Vaaldriehoek (AVT) se 2026-landloopliga klap vanjaar op 23 Mei.
Atlete van AVT het verlede jaar 12 medaljes by die Atletiek Suid-Afrika (ASA)-kampioenskappe ingepalm.
Dié prestasies het die diepte en krag van AVT se langafstandatlete ten toon gestel, en die 2026-seisoen beloof om op hierdie sukses voort te bou.
Die eerste ligabyeenkoms word deur Blue Runnings Atletiekklub aangebied.
Die volgende ligabyeenkomste vind op 6 Junie, 20 Junie, 4 Julie en 18 Julie plaas.
Die sesde en finale ligabyeenkoms vind op 25 Julie plaas en word deur die Hoekies Atletiekklub aangebied.
Die liga sluit op 8 Augustus af met die AVT-kampioenskap wat deur die Nedbank Atletiekklub aangebied sal word.
Beulah Valentin, voorsitter van AVT-landloop, sê AVT benodig steeds klubs om die tweede, derde, vierde en vyfde ligabyeenkoms aan te bied.
“Klubs wat die geleenthede aanbied, speel ’n sleutelrol in die sukses van die seisoen,” het sy verduidelik.
Sy voeg by dat die liga vir atlete ’n geleentheid bied om beter as verlede jaar te presteer en provinsiale erkenning te verdien.
Skakel Valentin by 071 363 6794 vir meer inligting of stuur ’n WhatsApp. ’n E-pos kan ook aan avtprov09@gmail.com gestuur word.
