Ek sê maar net… Een gewone wit kers, want ek onthou
RUBRIEK - Kanker is 'n lelike ding. Die gevolge van die siekte laat 'n warboel emosies los. Die ergste is die gat in jou hart, wanneer die mense weg is.
RUBRIEK – Ek steek vandag ‘n kers aan. Nie ʼn grênd kers nie. ʼn Gewone witte, in die dag, maar die vlam brand steeds helder.
ʼn Kers vir almal wat ek geken het wat die stryd dapper teen kanker gestry het, maar wie se lewe deur die siekte kortgeknip is.
Verlede jaar is my ou kamermaat van universiteit en vriendin van meer as 35 jaar, Antoinette Venter oorlede aan pankreaskanker. Dit was skielik. Die diagnose. Vlak 4. Niks wat hulle kon doen nie.
Kort daarna my oudste neef aan Pa se kant, Johann Maartens. Breinkanker. Niks wat hulle kon doen nie. Dit was net ʼn paar maande.
Johan se stiefpa. Kanker is al in 2019 gediagnoseer. Dit was op en af tye. Tye waar dit gelyk het die kanker is ʼn knou toegedien, maar toe slaan dit met mening terug. Skielik.
Gister kry ek die nuus. Een van my spanmaats van ons Diensjaar vir Christus in 1994 dae, is oorlede. Kanker. Marlee was maar 50. Talentvol, musikaal met ʼn hart vir sendingwerk.
Ek onthou vandag. Elkeen van julle. Van Charl, nog ʼn diensjaarspanmaat, wat in 1994 leukemie gekry het en twee jaar later, vlak voor sy 21ste verjaarsdag gesterf het, tot by Marlee. Elkeen het ʼn spesiale plek in my hart gehad.
Die dat ek vandag ʼn kers opsteek. ʼn Gewone, wit kers in die middel van ʼn besige oggend. Net om te sê julle word onthou en gemis.
