News

Oud-Protea-netbalspeler draf Twee Oseane-wedloop kaf

Voormalige Protea-netbalspeler Nadia Pienaar durf nou die ultramarathon-wêreld aan.

MEYERTON – Nadia Pienaar, ’n voormalige Protea-netbalspeler, is ’n kranige sportvrou wat gewoond is aan uitdagings.

Met 22 internasionale toetse agter haar naam en jare se ondervinding op die wêreldverhoog, is sy nou gereed vir ’n uitdaging van ’n heeltemal ander aard: ultramarathonne.

Nadia Pienaar in die dae toe sy nog vir die Proteas uitgedraf het.

Nadia, wat in 2011, 2013 en 2017 vir die Proteas uitgedraf het, se netballoopbaan is gekenmerk deur dissipline en mededingendheid.

’n Netbalwedstryd duur 60 minute, maar ’n ultramarathon hou ure lank aan.

Al is haar dae op die netbalbaan verby, brand daar steeds ’n vuurtjie binne haar.

Nadia Pienaar, in aksie tydens haar netbaldae vir die Proteas.

Sy het die Twee Oseaneultramarathon op 11 April, haar eerste wedloop wat verder strek as 42,2km, in ’n indrukwekkende tyd van 05:57:00 voltooi.

Die laaste 6km het egter haar deursettingsvermoë behoorlik getoets. “Jy ervaar skielike verlies aan energie, dan moet jy diep delf,” erken sy.

Nadia Pienaar op Chapmanspiek-rylaan tydens verlede naweek se Twee Oseane-wedloop, met die atlantiese osean in die agtergrond. Foto: Verskaf

Volgens Nadia is die geestelike stryd soortgelyk aan dié van internasionale netbal, met een groot verskil: ’n netbalwedstryd duur 60 minute, maar ’n ultramarathon hou ure lank aan.

Maar die Twee Oseane was slegs ’n “stepping stone.”

Nadia Pienaar tydens die Twee Oseane-wedloop. Foto: Verskaf

Haar volgende mikpunt is die Comrades-ultramarathon van bykans 90km tussen Durban en Pietermaritzburg.

Sy vertel dat sy verlede jaar die Comrades op televisie gekyk en gewonder het: “As hierdie mense dit kan doen, hoekom kan ek nie?”

Nadia Pienaar, ’n voormalige Protea-netbalspeler, met haar hardloop-maat, Natasha Genis, ’n voormalige SA-swemmer, tydens die Twee Oseane-wedloop. Foto: Verskaf

Sedertdien het sy haar tekkies nader gehark. Saam met haar hardloopmaat, Natasha Genis, ’n voormalige SA-swemmer, trotseer sy vroegoggend die paaie.

“Ons draf-pas en mindset is baie dieselfde. Ons druk mekaar na hoër hoogtes,” sê sy.

Nadia Pienaar, ’n voormalige Protea-netbalspeler, met haar hardloop-maat, Natasha Genis – ’n voormalige SA-swemmer – voor die aanvang van vanjaar se Twee Oseane-wedloop. Foto: Christiaan Cloete

Deesdae is Nadia ook direkteur van netbal by Hoërskool Dr. Malan en ’n ma. Haar oefensessies begin dikwels voor sonsopkoms terwyl haar huishouding nog slaap.

Haar eerste doelwit by Comrades is om klaar te maak, maar sy mik stilweg na ’n tyd onder nege ure.

Nadia Pienaar word deur haar man, Junior Pienaar, geluk gewens nadat sy die Twee Oseane-wedloop voltooi het. Foto: Christiaan Cloete

“Ek wil nie eendag terugkyk en vra ‘wat as?’ nie,” sê sy.

Vir hierdie oud-Protea is die groen-en-goud dalk iets van die verlede, maar die mededingende gees brand steeds helder.

Nadia Pienaar saam met mede-atlete na afloop van die Twee Oseane-wedloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button