Kampvegter vir LUPUS-lyers
Die maand val die fokus wêreldwyd op LUPUS en MS. Maak nader kennis met Brechte Heally, 'n LUPUS-lyer en kampvegter.
VEREENIGING – Brechje Heally is in 2024 met die outo-immuunsiekte LUPUS gediagnoseer. Die diagnose het ‘n naam gegee vir dit wat haar al vir jare siek maak.
Voor dit is haar siekte deur mense en selfs medici afgemaak as “dat sy ‘n sieklike mens is” of dat sy net “aansit.” Sy het onder andere chronies pyn gehad in haar gewrigte en moes in 2021 ‘n heupvervanging ondergaan.
Brechje is nou 35, maar haar gesondheidsprobleme het al op skool begin. “Ek was konstant siek gewees, maar net die simptome is behandel,” vertel sy. Na die diagnose het sy in ‘n depressie verval en haarself onttrek.
Verlede jaar het sy egter met MS Hoop stigter Rozaan Steyn kennis gemaak. “Sy het my gevra, ‘weet jy hoe sterk is jy?’” onthou Brechje.
Sedertdien het sy ‘n kampvegter geword wat ander LUPUS-lyers ondersteun en mense bewus maak van die siekte. Haar Voices for LUPUS-ondersteuningsgroep op WhatsApp en Facebook gaan van krag tot krag.
“Ons deel nie mediese raad uit nie; ons ondersteun mekaar en hoor bymekaar wat help en wat help nie.”
“Ek het besef dat LUPUS nie genees kan word nie, maar dat dit saak maak of jy dit positief of negatief vat. Ek het geleer om elke dag voluit te leef.”
Alhoewel haar LUPUS redelik onder beheer is, steek dit wel kop uit. In Desember het sy weer so ‘n flare ervaar en moes sy dringend yster inkry. Dan was daar die keer wat sy sonsteek in haar senuwees gekry het.
“Ons het gaan kamp en ek het seker gemaak om ‘n hoed te dra, sonskerm aan te smeer en in die koelte te bly, maar ek het steeds baie siek geword. Die son is gif vir mense met LUPUS,” verduidelik Brechje.
Ten spyte van die siekte werk Brechje nog voltyds. “Ek is baie dankbaar en gelukkig om ‘n goeie ondersteuningstelsel te hê. ‘n Mens moet een hê. Van my man Harris tot by die werk verstaan hulle en ondersteun my ten alle tye.”
Brechje het besluit 2026 is die jaar wat sy nie gaan siek wees nie. Sy het met ‘n gesonde leefstyl begin en het al 20kg verloor. Tans ontwerp en plaas sy elke dag inligtingstukke oor LUPUS en Veelvuldige Sklerose (MS) op Facebook in samewerking met Rozaan van MS Hoop en Ashline Groenewald van Kraaifontein.
Dit vorm deel van die drie se bewusmakingsveldtog vir Mei waar die fokus wêreldwyd op MS en LUPUS val. 10 Mei is Wêreld LUPUS dag, terwyl Wêreld MS dag jaarliks op 30 Mei MS-lyers bymekaar bring.
