News

Talle plaasdiere vrek weens koue in Refengkgotso

Help die DBV om broodnodige skuiling, water en ander noodvoorraad aan die diere te verskaf.

DENEYSVILLE – Talle plaasdiere het volgens die Vereeniging en Vanderbijlpark DBV in Refengkgotso, Deneysville, gevrek nadat hulle aan uiters koue, nat en winderige weerstoestande blootgestel is.

Die DBV sê inspekteurs is Dinsdagmiddag na die gebied gestuur nadat ’n klagte ontvang is. Hulle het volgens die organisasie op ’n verwoestende toneel afgekom, met dooie diere wat deur die geaffekteerde gebied versprei gelê het.

Volgens die DBV het die diere weens langdurige blootstelling aan die koue en nat toestande gevrek. In sommige gevalle is die beskikbare skuilings deur sterk winde beskadig of vernietig, terwyl ander diere volgens die DBV geen toegang tot skuiling gehad het nie.

Die situasie het Woensdagoggend steeds voortgeduur, met oorlewende diere wat aan die gure weer blootgestel was.

Die DBV se hele inspekteurspan, vergesel deur die Nasionale Raad van DBV’s (NSPCA), is weer in die gebied om noodhulp te verleen. Die span het onder meer skadunet en ander materiaal saamgeneem om tydelike skuilings op te rig.

Die DBV doen ’n beroep op die publiek vir skadunet en geskikte materiaal vir tydelike skuilings, hooibale en groot bottels of houers vir drinkwater. Reënjasse, gumboots en versnaperinge vir personeel wat in die veld werk, word ook benodig.

Fisieke skenkings kan by die Vereeniging DBV, General Smutslaan 66, Duncaville, Vereeniging, afgelewer word.

Die organisasie vra ook finansiële ondersteuning vir sy Winterfonds, wat diere in sy hele diensgebied help, insluitend dié wat deur die huidige krisis in Refengkgotso geraak word.

Die DBV waarsku intussen dat nie-noodoproepe moontlik vertraag kan word, aangesien sy hele inspekteurspan tans in Refengkgotso ontplooi is.

Jy kan ook ’n skenking aan die Winterfonds maak deur ’n elektroniese oorplasing:

Rekeningnaam: Vereeniging DBV
Bank: ABSA
Rekeningtipe: Spaarrekening
Rekeningnommer: 9258578888
Tak-kode: 632005
Verwysing: Winterfonds + jou naam

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button