Meyerton-tweeling vier hul 80ste verjaarsdag
Wat 'n wonderlike mylpaal! Baie geluk aan die tweeling - Johan Müller en Anna Small.
MEYERTON – Om jou 80ste verjaarsdag te vier is op sigself ’n groot voorreg, maar om hierdie merkwaardige mylpaal saam met jou tweelingsuster te deel, is ekstra spesiaal.
Johan Müller en Anna Small het onlangs dié groot gebeurtenis, omring deur familie en vriende, gevier.
Johan se seun, Jansen, en sy vrou Chrisinda, wou graag iets spesiaal vir hulle pa doen en het dadelik aan die werk gespring om ’n spoggerige aand in die saal van Laerskool Republiek te reël.
Die tema vir die aand was “Deur die Jare”, en gaste is in die voorportaal verwelkom deur pragtige foto’s van die tweeling se lewenspad.

Toe Johan en Anna die saal instap, is hulle begroet deur ’n droomwêreld van wit en goud, 70 opgewonde gaste, en die gepaste treffer “Stand Up for the Champions” wat oor die klankstelsel weerklink het.
Familie en vriende is die hele aand lank bederf met ’n heerlike ete en goeie musiek wat deur ’n platejoggie verskaf is, terwyl ’n seremoniemeester gesorg het dat alles seepglad verloop.
Die gesellige samesyn is afgerond met die sny van die verjaarsdagkoek, heerlike melktertjies en ’n fotograaf wat elke spesiale oomblik op kamera vasgevang het.

’n Pad saam gestap
Die tweeling is op 17 Junie 1946 op Rietfontein gebore en is (naas Johan se jare in die lugmag) reeds hul hele lewe lank in die Midvaal-omgewing woonagtig.
Albei het hul laerskoolloopbane by die destydse Laerskool Meyerton (nou Laerskool Midvaal) voltooi.
Anna het daarna haar hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Dr. Malan begin, terwyl Johan syne by die destydse HTS Vereeniging aangepak het.
Na skool het Anna ’n pos as tikster by die Spoorweë beklee, en Johan het later as ’n elektriese kontrakteur gekwalifiseer.
Johan was ook ’n kranige sportman en was op sy dag die kaptein van die Meyerton-rugbyklub se span.
Die geseënde tweeling spog ook met ’n ryk nageslag: Anna het vyf dogters en twee seuns, terwyl Johan die trotse pa van ’n dogter en ’n seun is.
“Dit was ’n onvergeetlike aand. Ons bedank in die besonder ons kinders vir die wonderlike reëlings, asook ons familie en spesiale vriende wat die aand saam met ons geniet het,” het ’n dankbare Johan namens die tweeling gesê.