News

Midvaal betreklik kalm te midde van vrese oor xenofobiese onrus

Vaalweekblad se verslaggewer Christiaan Cloete het saam met die private sekuriteitsmaatskappy Afri Guard ’n helikopterpatrollie uitgevoer om die situasie in Midvaal vanuit die lug te monitor.

Vanuit die lug was Midvaal Dinsdagoggend betreklik kalm, ondanks verhoogde sekuriteit en kommer oor beplande anti-immigrasiebetogings regoor Suid-Afrika.

Waarnemings tydens ‘n helikopterpatrollie oor die Vaal saam met die private sekuriteitsmaatskappy Afri Guard het geen noemenswaardige ontwrigtings by groot winkelsentrums, waaronder Vaal Mall, Riverstone Mall in Meyerton en River Square in Three Rivers, getoon nie.

Vaalweekblad se Christiaan Cloete op ‘n patrollievlug saam met Afri Guard se span. Foto: Christiaan Cloete
Besigheid soos gewoonlik by River Square.
Lede van die privaatsekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense hou ‘n wakende oog by die Vaal Mall in Vanderbijlpark. Foto: Christiaan Cloete

Personeel van verskeie private sekuriteitsmaatskappye was egter sigbaar in die onderskeie gebiede.

Volgens inligting wat tydens die patrollie ontvang is, is bande Maandagaand langs die R59 naby die Pielie’s Farm-informele nedersetting gevind en verwyder.

Roelof du Toit, ’n helikoptervlieënier, hou vanuit die lug ’n wakende oog oor die Riverstone Mall in Meyerton tydens ’n patrollievlug. Foto: Christiaan Cloete

Daar word vermoed dat dit gebruik sou word om die snelweg te versper, hoewel dit nie onafhanklik bevestig kon word nie.

In Sicelo het ‘n groep mense bymekaargekom, terwyl die polisie ‘n sigbare teenwoordigheid gehandhaaf het.

‘n Groep betogers in Sicelo met wetstoepassingsagentskappe wat ‘n wakende oog hou.
‘n Groep mense drom saam in Sicelo. Foto: Christiaan Cloete

Langs Iowa Prairieweg is ‘n klein groep betogers waargeneem wat noordwaarts beweeg het. Lede van wetstoepassingsagentskappe en private sekuriteitsmaatskappye is na die gebied ontplooi om die situasie te monitor.

Teen publikasietyd het verkeer oor die grootste deel van die gebied normaal gevloei en geen grootskaalse onrus is tydens die patrollie waargeneem nie.

‘n Groep mense beweeg met Iowa Prairiestraat af. Foto: Christiaan Cloete

Berigte van betogings in De Deur en beweerde plundering van winkels in Sicelo het Dinsdag die ronde gedoen.

Hierdie berigte kon egter nie onmiddellik onafhanklik bevestig word nie, en owerhede het nog geen amptelike besonderhede bekend gemaak nie.

Polisie, die weermag en private sekuriteitsmaatskappye bly intussen op hoë gereedheid te midde van landwye kommer oor beplande betogings wat verband hou met oproepe deur die groep March and March dat ongedokumenteerde immigrante Suid-Afrika moet verlaat.

‘n Helikopter van die privaatsekuriteitsmaatskappy Afri Guard monitor die situasie in die Vaal vanuit die lug. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button