Vanderbijlpark DBV bestaan nie meer nie!
Dringende versoek aan Vanderbijlpark inwoners: Moenie weerlose diere daar aflaai nie, neem hulle na die Vereeniging-tak.

VANDERBIJLPARK – Inwoners moet asb. kennis neem dat die Vanderbijlpark Diere Beskerming Vereniging (DBV) nie meer bestaan nie.
Die tak moes reeds ‘n paar maande gelede sluit omdat daar nie genoegsame ondersteuning vanuit die plaaslike gemeenskap was nie.
Die perseel is verlate. Die naamborde is heeltemal verwyder en die inspekteurs werk tans vanuit die Vereeniging-tak.
Dit is egter met skok dat daar besef is dat mense steeds weerlose diere daar aflaai wat dan inderwaarheid aan hul eie genade oorgelaat word.
Die bestuur van die Vereeniging DBV doen ‘n dringende versoek dat mense sal ophou om diere daar af te laai. Diere moet asb. na die Vereeniging-tak geneem word.
Inwoners word gevra om die boodskap te versprei sodat weerlose diere nie verder sal ly nie. Mens kan mos nie ‘n dier agterlaat as jy kan sien daar is geen hokke of teken van ‘n diereskuiling nie.
Indien inwoners hulp met ‘n dier benodig, moet hulle asb. die Vereeniging DBV by 016 422 1505 kontak.
