VANDERBIJLPARK – Sommige families deel eienskappe en trekke soos oogkleur of glimlagte.
In die Ryan-huisgesin lyk dit of die liefde vir woorde en ’n natuurlike gemak voor ’n gehoor sommer in die gene ingebou is.
Lawrence en Arianna Ryan, van die Laerskool Vryheidsmonument, is ‘n gedugte broer en susterkombinasie wat onlangs weer bewys het dat goeie redenaarsvernuf beslis in die gesin se are borrel en bruis.

Albei het tot die landsfinaal van die Prima Redenaarskompetisie deurgedring. Volgens hul ma, Talita, was dit van kindsbeen af duidelik dat hierdie sibbe oor iets besonders beskik.
Volgens haar is Arianna as’t ware met ’n woordeboek in die mond gebore, terwyl Lawrence reeds vroeg gewys het hoe gemaklik hy op ’n verhoog is. Vir Lawrence, ‘n graadeenleerer, voel die prestasie steeds onwerklik.
“Dis ’n lekker gevoel,” sê hy. Wat hy die meeste geniet van redenaars, is eenvoudig: “Om voor die mense te staan en my praatjie te doen is lekker.” Hoewel hy erken dat hy aanvanklik senuweeagtig was, het daardie onsekerheid vinnig plek gemaak vir selfvertroue.
“Die eerste keer ja, maar daarna was dit net lekker.” Soos enige jong redenaar weet Lawrence ook dat voorbereiding belangrik is. “Ek sê dit op vir Mamma, Sussie en Ouma en myself,” vertel hy.
Die grootste uitdaging? “Dat ek my kaartjies mooi in volgorde moet hou, anders sê ek die verkeerde woorde.”
Sy ouer sussie Arianna, ’n graad 3-leerling, het reeds haar liefde vir redenaars lank voor haar boetie ontdek. Sy beskryf haar gevoelens oor die landsfinaal as gemeng. “Baie trots en bly, maar ook skrikkerig vir die finaal.”
Haar passie vir praat is egter onmiskenbaar. “Ek het ’n mond wat lekker kan babbel,” skerts sy. Arianna se voorbereiding is deeglik.
“Ek leer die toespraak uit my kop en oefen dit elke dag.” Net voor sy op die verhoog stap, fokus sy op innerlike kalmte. “Ek haal ’n paar keer diep asem en bid.” Talita sê hul fokus as gesin was nog nooit uitsluitlik
op wen nie. “Ons ingesteldheid is eerder om jou gawes te ontwikkel en te geniet wat jy doen.
” En dalk is dit juis die geheim van hierdie talentvolle boetie en sussie uit Vereeniging. Dis nie net goeie gene nie, maar ook ’n huis vol aanmoediging, harde werk en ’n opregte liefde vir die kuns van praat.