Leeuhof-inwoners kla oor jarelange rioolprobleem naby gemeenskapsaal
Rioolvuil in die strate wek toenemende kommer oor kinders se veiligheid.
VEREENIGING – Inwoners van Leeuhof sê hulle leef al vir byna twee jaar met ’n aanhoudende rioollek naby die gemeenskapsaal, wat volgens hulle mettertyd vererger en nou ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners inhou.
Inwoners kla al lank oor die gebied naby Kuduweg 40, waar ’n verstopte hoofrioollyn en ineengestorte pype glo veroorsaak dat rioolvuil in die straat en omliggende erwe vloei.
Ons sit al 2 jaar met die probleem en dit raak erger by die dag
Volgens ’n inwoner wat met Vaalweekblad gepraat het, duur die probleem reeds sowat twee jaar en het dit sedertdien vererger.
“Ons sit al 2 jaar met die probleem en dit raak erger by die dag,” het die inwoner gesê. “Ons inwoners word so siek van al die rioolwater reg rondom ons.”
Sy beweer dat die probleem spruit uit ’n verstopte hoofrioollyn en beskadigde pype, wat veroorsaak dat rioolwater terugstoot en in die gebied opdam.

Inwoners sê groot poele besmette water vorm tans naby huise, en dat diere na bewering al in die water vasgesit het en byna verdrink het.
Bekommernis is ook uitgespreek oor kinders in die gebied wat aan die besmette water blootgestel kan word. Inwoners sê hulle moet gereeld keer dat kinders in die omgewing speel.
“Dit is so gevaarlik hier… daar is baie kinders wat dink hulle kan hier speel. As hulle daarin val kan hulle verdrink of bakterieë insluk,” het sy gesê.
Die inwoner beweer verder dat die probleem herhaaldelik by die munisipaliteit aangemeld is, maar dat daar geen volhoubare oplossing gevind is nie. Sy beweer ook dat vorige besoeke deur amptenare nie tot blywende ingryping gelei het nie.
Ten tyde van publikasie het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nog nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

