Dié grote het nie weggekom nie!
Winterhengel is baie gewild in Suid-Afrika, maar dit bring heelwat uitdagings wat die sukses soveel soeter maak.
VANDERBIJLPARK – Pierre Goosen, lid van die Valia Vaskappers en beheerliggaamslid van Hoërskool Transvalia, het verlede week die winterkoue trotseer tydens ’n wegbreek by ’n vakansieoord in Naboomspruit.
En soos die ou hengelaars sê: dit is juis in die winter wanneer die grotes byt.
Pierre het dié gesegde behoorlik bewys toe hy ’n bielie van ’n karp aan die lyn gekry het.
Hoewel daar nie ’n skaal byderhand was om die pragvis te weeg nie, word sy gewig op ’n stewige 20 kg beraam.
Nadat Pierre met sy spogvangs vir die kamera geglimlag het, is die meneer veilig teruggeplaas in die water.
Volgens Pierre het hy omstreeks 15:00 die middag sukses behaal met amandel-mieliepitte.
Baie geluk met hierdie pragvangs, Pierre!
