Teken beswaar aan teen ELM se voorgestelde sonkragheffings
Inwoners is boos omdat ELM sonkragverbruikers wil verplig om 'n aansoekheffing en 'n maandelikse fooi te betaal.
VANDERBIJLPARK – Emfuleni plaaslike munisipaliteit (ELM) het onlangs in ʼn raadsvergadering hul voorgestelde Small Scale Embedded Generation (SSEG) beleid ter tafel gelê.
Daarvolgens sal inwoners ʼn aansoekfooi van sowat R2 400 moet betaal wanneer hulle aansoek doen om sonpanele te installeer en aan die netwerk te koppel. Dit sal verder gepaard gaan met ʼn maandelikse heffing van R463 vir huishoudings met sonkragpanele.

Inwoners is met rede ontevrede oor hierdie voorgestelde beleid. Dinsdag het inwoners ʼn openbare vergadering bygewoon wat deur raadslid Gerda Senekal van die Vryheidsfront Plus gereël is.
Volgens Senekal het ELM nie hul eie prosedures gevolg met die opstel van die beleid nie en die munisipale bestuurder het ook nie na die vergadering ʼn tydperk aangekondig vir publieke terugvoer nie.
Die VF Plus het dit op hulself geneem om die publiek se insae oor die voorgestelde beleid te verkry. Hulle het derhalwe ʼn petisie opgetrek om amptelike beswaar teen die beleid aan te teken.
Die petisie kan by die VF Plus se kantoor verkry en onderteken word. Hul kantore is geleë te 139 Rossini-boulevard in Vanderbijlpark.
Tydens die vergadering het inwoners hul misnoeë met die beleid uitgespreek. Een dame het gesê sy kan nie sien hoekom sy nou oor die vingers getik word net omdat sy haar lewe gemakliker en veiliger wil maak nie.
Nog ʼn lid van die publiek het dit goed saamgevat. “ELM forget why they are there. They are supposed to serve us.”
Dis een van die probleme wat almal met die voorgestelde beleid het: dit bevoordeel slegs die munisipaliteit en nie die inwoners nie.
Inwoners wil ook weet wat gaan met die geld gedoen word wat deur die aansoekheffing en maandelikse fooi gegeneer word?
Rdsl. Senekal sê deur die petisie en die gepaardgaande navorsing wat sy gedoen het, sal daar amptelik teen die voorgestelde wetsontwerp kapsie gemaak word.
“Ons is nie in beginsel teen ʼn SSEG-beleid nie. Ons voel wel dat die beleid inwoners ook moet bevoordeel. Ons gaan nie die beleid kan stop nie, maar ons gaan dit verander,” het sy belowe.
Nog ʼn openbare vergadering word vir Dinsdag, 7 Julie om 18:00 by Die Veiling in Vereeniging beplan.