Jaco dien voort ten spyte van gesondheidsterugslae
Ander sou lankal moed opgegee het, maar Jaco van den Berg vat elke dag steeds voluit aan.
VANDERBIJLPARK – Jaco van den Berg het ‘n glimlag en ‘n vriendelike woord vir almal. Hy beskou homself as ‘n admin-fundi en is altyd gereed om te help waar hy kan. Al is dit net om te beduie presies hoe ‘n gazebo opgeslaan moet word.
Jaco het oor die jare albei sy bene weens diabetes verloor en sig in sy een oog nadat ‘n kornea-operasie skeefgeloop het. Boonop het hy al ses hartaanvalle gehad, maar niks kry hom onder nie.
Hy beskou homself as ‘n gebore soldaat en aan sy veggees is daar geen einde nie. “Ek het in ‘n militêre huis grootgeword. My pa was in die weermag en ons het baie rondgetrek. Die beste jare was toe my pa in die ou Suidwes-Afrika gestasioneer was.”
“Dit was in 1976. Ek het aangedring om in die koshuis te wees, al kon ek ons huis deur die koshuiskamervenster sien. Ek wou by my maats wees,” lag hy.
Jaco is ‘n spanspeler. Hy geniet dit om deel van ‘n groep te wees wat saam na ‘n doel werk. Dié dat hy sy eie jare in die weermag geniet het. Hy was ‘n sapperbat in die weermag.
Die sappers het uit choppers gespring en dan paaie en brûe gebou, watersuiwering gedoen en landmyne opgetel. Na sy weermagdae het hy as ketelmaker by die destydse YSKOR gekwalifiseer.
Hy het lank vir Solidariteit gewerk en was ‘n aktiewe lid van AfriForum se reaksieeenheid in Vanderbijlpark. Sy gesondheid het hom egter gekniehalter en vandag kan hy nie meer saam gaan patrollie ry nie.
Dit verhoed hom egter nie om steeds oral betrokke te wees nie. As adjudant van die SuidAfrikaanse Veterane Weermag Vereniging se Byekorftak hanteer hy al die administrasie van die tak asook ledewerwing.
Dan is hy ook ‘n opgeleide pastoor en dien tans by die Rock of Ages kerk. “My vrou en my geloof is my alles. Die Here is goed vir my,” verduidelik hy.
Al wat hy vra is: “Hoe kan ek jou help? Help my om jou te help.” Dis wie hy is, oral betrokke en altyd aan die gang. ‘n Inspirasie en rolmodel vir almal.