Local newsNews

Nuwe seisoen vir mnr. Ruvuan Olivier

HS Transvalia is trots op hul Mnr. Olivier wat as skoolhoof in Bonnievale aangestel is.

VANDERBIJLPARK – Vir die afgelope 20 jaar was Ruvuan Olivier se naam sinoniem met Hoërskool Transvalia, veral Transvalia sport.

Verlede Donderdag het hy egter vir oulaas die klok by die Arc de Valia gelui. Ruvuan is aangestel as die nuwe skoolhoof van Hoërskool Bonnievale in die Wes-Kaap.

‘n Skool met sowat 500 leerders wat die laerskool insluit. “Dit gaan ‘n lekker uitdaging wees,” sê hy. Alhoewel Ruvuan uitsien na die nuwe seisoen in sy lewe, gaan hy Transvalia mis.

Veral die sport. As adjunkhoof en sporthoof by die skool was dit altyd vir hom lekker om te sien hoe die verskillende sportspanne uitdagings aanvat en oral presteer. Ruvuan erken hy is sportmal.

Hy hou daarvan om verskillende sport te kyk, maar is veral lief vir rugby en krieket. Hy is ‘n getroue Cheetah-ondersteuner, al het hy aan die Gauteng kant van die Vaalrivier grootgeword.

Hy was in Laerskool Vryheidsmonument en later in die voormalige HTS Vereeniging. Daarna het hy onderwys by die NWU se Vanderbijlparkkampus studeer. Deur die jare het hy wiskunde en wiskunde geletterheid aangebied.

Tans pak hy nog sy kantoor by die Hoërskool Transvalia op voordat hy middel Julie die langpad Bonnievale toe aandurf. Sy vrou, Adri is ‘n lektor by die universiteit en sal eers die einde van die jaar by hom aansluit.

Tot dan sal Ruvuan in ‘n woonstel in die koshuis bly. Alhoewel hy baie besig gaan wees om sy voete te vind by die nuwe skool, gaan dit maar moeilik gaan sonder sy twee viervoetkinders, Malcolm die pitbull (vernoem na Springbok Malcolm Marx) en Boela die worshond.

Hoërskool Transvalia het in ‘n afskeidsboodskap aan Ruvuan geskryf:

“Baie dankie vir 20 jaar van diens, leiding en onwrikbare toewyding aan Hoërskool Transvalia. U het deur die jare ‘n blywende verskil gemaak in die lewens van leerders, personeel en die breër skoolgemeenskap.

Mag hierdie nuwe hoofstuk gevul wees met seën, sukses en groot vervulling. Ons weet dat u dieselfde passie, visie en toewyding waarmee u Transvalia gedien het, ook in hierdie nuwe avontuur sal uitleef. Ons sal altyd trots wees op die spore wat u by Transvalia getrap het en die nalatenskap wat u agterlaat.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button