Dade eerder as woorde gaan Amanda Dreyer se nalatenskap eendag beskryf
Valie se netbalspan wys hulle kan.
VANDERBIJLPARK – “Hello my girle.”
Vir Amanda Dreyer is dit net haar manier om elke oefening te begin. Vir die honderde jong netbalspelers wat al deur haar afgerig is, is dit egter woorde wat vertroue, aanmoediging en omgee simboliseer.
Die bekende Vaaldriehoekse-afrigter het onlangs Gauteng se o.14-span na ‘n silwermedalje by die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe gelei, maar haar grootste prestasie lê veel dieper as medaljes en uitslae.

“Ek wil onthou word as die coach wat altyd geluister het, raad gegee het en ‘n verskil in my spelers se lewens gemaak het,” sê sy.
As ‘n mens die boodskappe lees wat ná die toernooi ingestroom het, is dit duidelik dat sy reeds daarin geslaag het.
“Coach het altyd in ons geglo, selfs wanneer ons nie in onsself geglo het nie. Coach het ons nie net beter spelers gemaak nie, maar ook beter mense,” vertel een speler.
‘n Ander beskryf Amanda as die afrigter wat die span se koppe hoog gehou en altyd ‘n glimlag op almal se gesigte gesit het.
Vir een dankbare ouer is haar invloed selfs groter as netbal. “Jy het vir Kiara ‘n glimlag op haar gesig gesit.
Dit wys hoeveel liefde en omgee jy in hierdie kinders belê.” Amanda se liefde vir die sport het reeds op skool begin.
Sy het self provinsiale netbal gespeel en ook as skeidsregter opgetree, maar dit was afrigting wat uiteindelik haar hart gesteel het. Haar voormalige afrigter, Rina Payne, het haar geïnspireer om dieselfde verskil in ander jong spelers se lewens te maak
. Gedurende haar jare by die NWU Vaal en die Hoërskool Driehoek het sy besef afrigting gaan oor veel meer as tegniek. “Dit het my geduld en empatie geleer. Soms praat spelers nie met woorde nie.”
Vir haar was die hoogtepunt van die SA’s nie die silwermedalje nie, maar Gauteng se ongelooflike terugvegpoging teen Wes-Kaap, waar haar span ‘n agterstand van vyf doele omgekeer en met twee doele gewen het.
“Om daardie veggees te beleef, het my woordeloos gelaat.” As elite-afrigter woon sy gereeld kursusse en klinieke by en glo sy ‘n afrigter moet voortdurend leer.
Haar lewensmotto, #BlomWaarJyGeplantIs, moedig spelers aan om deur uitdagings te groei en die beste weergawe van hulself te word.
Wanneer Amanda eendag ophou afrig, sal baie spelers waarskynlik nie eerste die medaljes onthou nie.
Hulle sal die stem onthou wat elke oefening met dieselfde woorde begin het: “Hello my girle.”
En die afrigter wat hulle laat glo het hulle is tot soveel meer in staat as wat hulle self gedink het.