News

Sasolburg Cobras se skrummie (50) wys ouderdom is net ‘n syfer

As 'n gesoute veteraan, bring Barend Swanepoel onskatbare ervaring en dryfkrag na die Cobras se tweedespan.

SASOLBURG – Om op 50-jarige ouderdom steeds mededingende klubrugby te speel is ’n merkwaardige prestasie, een wat maar min spelers beskore is.

Barend Swanepoel, kaptein van die Sasolburg Cobras se tweedespan, is egter die uitsondering op die reël.

Waar die meeste rugbyspelers op klubvlak hul stewels lank voor hul 35ste verjaarsdag aan die wilgers hang, laat Barend hom min pla deur die feit dat hy tot 18 jaar ouer as van sy spanmaats en teenstanders is.

Hy het tot verlede jaar vir die Cobras se eerstespan gespeel, en vanjaar vir die eerste keer vir die tweedespan op die veld gedraf.

“Ek het juis die naweek weer ‘n paar aanmerkings gekry,” skerts Barend. “Een van die jong manne sê toe vir my: ‘Oom, ek hou oom nou al van laerskool af dop, wanneer hang oom jou stewels op?’ ’n Ander een reken toe ‘ek kon sy pa gewees het’.

Maar dis die dinge wat tussen lyne gelees moet word en wat ‘n broederskap bou tussen die spelers.

Barend Swanepoel, kaptein en skrumskakel van die Sasolburg Cobras se tweedespan in aksie tydens die afgelope Saterdag se wedstryd teen die Meyerton Knights. Foto: Elsje Vermeulen

Passievolle sportman

Barend se passie vir sport het reeds op vyfjarige ouderdom begin. Hy is ’n veelsydige sportman wat ook op die krieketveld uitblink.

Hy het reeds in 2004 Valke Platteland-kleure verwerf, en in 2013 sy Suid-Afrikaanse kleure in binnehuise krieket teen Sri Lanka verdien. Hy het die nasionale binnehuise krieketspan vir ‘n volle 10 jaar verteenwoordig.

In die fleur van sy lewe het hy vir verskeie eerstespanne op die rugbyveld uitgedraf, waaronder Sasol Rugbyklub, VUT, Bearing Man Vaal (die voormalige Iscor Rugbyklub), Meyerton en Koppies. Hy het ook in sy jonger dae vir Vereeniging se o21-span gespeel.

“Met al my jare se rugbyervaring voel ek ek kan iets teruggee aan die jonger manne en ’n waardevolle bydrae lewer met die kapteinskap,” sê Barend.

“Op die veld wil ek die voorbeeld stel deur my 100% te gee en elke oomblik saam met my spanmaats te geniet.”

Aan giere soos spesiale dieetprogramme of ure in die gimnasium het hy hom nog nooit gestoor nie.

“Ek was maar net nog altyd sportief. Ek hardloop soos ‘n Jack Russell agter ‘n bal aan, en vir my is dit genoeg oefening!” spot hy.

Wat beserings betref was Barend tot dusver ook baie gelukkig. “Daarvoor dank ek net ons Hemelse Vader.”

Oor wanneer hy finaal sy stewels gaan wegbêre, is hy nog nie heeltemal seker nie.

“Die vraag kom draai so nou en dan in my kop, maar solank as wat die afgerigter jou nie vra om halftyd die lemoene vir die manne op te dra nie, verdien jy nog jou plek in die span.”

Barend Swanepoel (50) van Sasolburg speel heel gepas met met ‘n nommer 50 op sy rugbytrui. Foto’s: Elsje Vermeulen

Uitdagings word slimmer hanteer

Hy erken wel dat die moderne spel verander het en dit taai maak vir ‘n ouer speler.

“Die spel het baie vinniger geword. Die jonger manne is van jongs af op dieetprogramme en werk hard in die gimnasium. Dit is goed, want dit maak beslis vir hulle deure oop om oorsese kontrakte te kry.”

Dit het Barend genoodsaak om slimmer te speel hoe ouer hy word. Dit wat hy van kleins af geleer is, soos om die bal vinniger uit te gee. pas hy nou streng toe.

Dit help ook dat hy Maandagóggende steeds redelik maklik uit die bed kan opstaan en met sy dag kan voortgaan.

Selfs sy dokter gee hom die groen lig: “Solank hy nie vir my ‘n rugby-voorskrif hoef te skryf nie, is hy tevrede dat ek aanhou speel solank my liggaam dit toelaat,” skerts Barend.

Barend se gesin

Maar wat dink sy vrou en twee volwasse seuns van sy langstondige rugbyloopbaan?

“Ek dink hulle het al lankal opgegee met my,” skerts Barend.

Op ‘n meer ernstige noot erken hy dat die sport, hoe goed dit ook al vir hom was, ’n impak op sy gesin gehad het.

“Naweke is eintlik gesinstyd, en dit is belangrik om ‘n gesonde balans te handhaaf. Gelukkig het ek ‘n wonderlike gesin wat my oor al die jare getrou ondersteun het”.

Sy groot doelwit om tot op 50-jarige ouderdom kompeterend te speel, is nou bereik.

“Ek voel daar is miskien nog ‘n goeie vyf jaar se rugby in my lyf, maar ek dink dit is nou tyd om meer kwaliteit-tyd aan my vrou en kinders te spandeer.”

Nog ‘n groot droom

Barend het egter nog een groot droom: om die Golden Oldies Mustangs Rugbyklub weer stewig op die been te kry.

Dit is ‘n projek wat hom na aan die hart lê, met spelers wat uit Meyerton, Vanderbijlpark, Vereeniging en Sasolburg afkomstig is.

Enige belangstellende spelers (32 jaar en ouer) wat by die Mustangs betrokke wil raak, kan vir Barend kontak by 082 334 3949 of vir Morné by 073 251 5913.

As die oudste speler in die liga laat Barend (50) die jonger manne steeds hard werk. Foto: Elsje Vermeulen
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button