Sekuriteitsbeampte beskerm beseerde motorfietsryer teen reën
’n Eenvoudige sambreel het tydens ’n nat en moeilike oomblik ’n groot gebaar van menslikheid geword.
VEREENIGING – ’n Eenvoudige, barmhartige gebaar van ’n sekuriteitsbeampte het die hartsnare van sosialemediagebruikers geroer nadat ’n foto van die beampte wat ’n beseerde motorfietsryer teen die gietende reën beskerm, wyd op sosiale media gedeel is.
Die voorval het in Houtkopweg, oorkant Laerskool Vryheidsmonument, plaasgevind.
Die foto is aanvanklik deur ’n nooddienswerker op Sekuriteit Sonder Grense se Facebook-blad gedeel.
Dit wys hoe een van die privaatsekuriteitsfirma se Hoë Risiko-eenheid (HRU)-sekuriteitsbeamptes ’n sambreel oor die beseerde vrou hou terwyl sy op ’n ambulans gewag het.
“Jy sien nie altyd hierdie soort deernis nie. Sê vir julle ou ons sê dankie,” lui die boodskap in die plasing.
Hierdie gebaar spreek boekdele van hierdie lid se karakter
Jacques Greyling, Sekuriteit Sonder Grense se uitvoerende hoof, het intussen meer besonderhede oor die voorval verskaf.
Volgens Greyling is die vrou beseer toe sy met haar motorfiets in die reën geval het. Teen die tyd dat die sekuriteitsbeampte by die toneel aangekom het, het personeel van 101 Towing haar reeds uit die pad gehelp om te voorkom dat sy verder beseer word of deur ’n voertuig raakgery word.
Die nodige nooddienste is ontbied en terwyl daar op die ambulans gewag is, het die sekuriteitsbeampte die vrou met ’n sambreel teen die reën en koue beskerm.
Hy het haar ook probeer gerusstel en moed ingepraat totdat sy per ambulans vir verdere behandeling vervoer is.
Volgens Greyling spreek die beampte se optrede nie net van sy persoonlike karakter nie, maar ook van die kultuur wat volgens hom binne Sekuriteit Sonder Grense gekweek word.
“Hierdie gebaar spreek boekdele van hierdie lid se karakter asook die kultuur wat gekweek word by Sekuriteit Sonder Grense om altyd die ekstra myl te loop vir ons kliënte asook mense wat in nood verkeer. Ons is uiters trots op hierdie lid,” het Greyling gesê.
Die foto het intussen groot reaksie op sosiale media ontlok, met talle mense wat die sekuriteitsbeampte se optrede en sy bereidwilligheid om ’n vreemdeling in ’n moeilike oomblik by te staan, geloof het.