Boere bespreek landbou-uitdagings met minister
Minister Willie Aucamp het Woensdag na boere se grootste landboubekommernisse geluister.
HEIDELBERG – Boere van Midvaal en Lesedi het Woensdagmiddag by De Pecan Valley langs die R42 tussen Heidelberg en Meyerton byeengekom vir ’n gesprek met die minister van landbou, Willie Aucamp.
Die vergadering, wat deur die Gauteng DA gereël is, het gefokus op uitdagings wat tans druk op die landbousektor plaas, waaronder bek-en-klouseer, stygende insetkoste en veiligheid op plase.

Landbouminister Willie Aucamp het Woensdag met boere van Midvaal en Lesedi oor die uitdagings in die landbousektor gesels. Foto: Thabo Madupe
Aucamp het onder meer die regering se pogings om die verspreiding van BKS te bekamp, verduidelik.
Volgens hom kom miljoene dosisse entstof tans vrylik Suid-Afrika binne.
Hoewel bek-en-klouseer steeds as ’n staatsbeheerde siekte beskou word, is die sektor volgens Aucamp oopgestel vir private rolspelers om entstowwe in te voer en toe te dien.
Volgens die minister kom miljoene dosisse entstof tans vrylik Suid-Afrika binne.
Boere kan ook, onder streng protokolle in ooreenstemming met internasionale riglyne, hul eie vee inent.
Die minister het verder verwys na gesprekke met landbou- en sakeorganisasies oor groter samewerking tussen die staat en die privaat sektor.
Plaaslike biodieselaanlegte word ook ondersoek as ’n moontlike manier om brandstofkoste te verlig en terselfdertyd ’n mark vir plaaslike landbouprodukte te skep.
Met die moontlike veranderinge aan die Amerikaanse AGOA-handelsooreenkoms word nuwe uitvoermarkte in die Ooste en Midde-Ooste vir onder meer steenvrugte en beesvleis ondersoek.

Midvaal se uitvoerende burgemeester, Peter Teixeira, het intussen die munisipaliteit se veiligheidsmaatreëls vir landelike gebiede uitgelig.
Dit sluit onder meer hommeltuie met termiese kameras, ’n munisipale wetstoepassingseenheid, ’n veldbrandweerwa en meer as 1 000 strategiese kameras in.
Mokete Motsamai, die se DA burgemeesterskandidaat vir Lesedi, het die munisipaliteite se dienslewering en bestuur vergelyk en kiesers aangemoedig om tydens die komende verkiesing op 4 November te stem.
Die geleentheid is afgesluit met ’n spitbraai waartydens boere en rolspelers verder informeel kon gesels.