News

Van Heerden se terugkeer kry momentum ná oorwinning

Ná ’n suksesvolle terugkeer na die kryt rig Donjuan “Die Iron Dragon” van Heerden sy visier op groter uitdagings.

MEYERTON – Toe Donjuan ‘Die Iron Dragon’ van Heerden onlangs aangekondig het dat hy na die kryt terugkeer, het hy gesê dit is die begin van ‘n nuwe hoofstuk in sy loopbaan.

Op 2 Augustus, het hy daardie belofte gestand gedoen toe hy die Kongolese bokser Jackson Masamba op punte in Lonehill, Sandton, geklop het.

Vir Van Heerden was die oorwinning meer as net nóg ‘n wen op sy rekord.

Donjuan van Heerden na afloop van sy geveg teen die Kongolese bokser Jackson Masamba. Foto: Verskaf

Dit was die eerste tree in ‘n terugkeer na die bokskryt wat hy glo nog groot hoogtes gaan bereik.

“Ek is tevrede met my vertoning, maar ek weet ek het nog baie meer om te wys. Ek het beheer geneem, slim geboks en gewys dat ek terug is. Hierdie was net die begin,” het hy gesê.

Hy erken dat die oorwinning vir hom baie beteken omdat sommige mense geglo het sy loopbaan is verby.

“Daar was baie mense wat in my getwyfel en gedink het ek is klaar, maar ek het nooit opgegee nie. Hierdie oorwinning was my manier om te sê Die Iron Dragon is terug.”

Die Iron Dragon is terug.

Volgens Van Heerden het sy nuwe bestuurder, afrigter en span ‘n deurslaggewende rol in sy voorbereiding gespeel.

Hy sê die skuif na die ligswaargewigafdeling was boonop die beste besluit van sy loopbaan.

“Ek het sterker, vinniger en gesonder gevoel. Ek hoef nie meer my liggaam te vernietig om gewig te maak nie en kan nou daarop fokus om my beste boks te lewer.”

Van Heerden rus egter nie op sy louere nie. Hy klim reeds op 29 Augustus weer deur die toue wanneer hy teen Alex Kabangu te staan kom.

Donjuan van Heerden in aksie tydens sy geveg teen Jackson Masamba. Foto: Verskaf

“Alex is ‘n sterk en gevaarlike teenstander, maar ek berei vir die geveg voor om ‘n stelling te maak. Ek glo hierdie geveg gaan wys dat ek gereed is vir die grootste uitdagings.”

Hoewel hy nog twee gevegte vanjaar in die vooruitsig het, is sy oog op groter doelwitte gevestig.

“Ek wil nie net gevegte wen nie, ek wil titels inpalm. Ek wil myself vestig as een van Suid-Afrika se beste boksers,” sê hy.

Aan sy ondersteuners in Meyerton en die Vaal het Van Heerden ‘n eenvoudige boodskap: “Baie dankie dat julle in my bly glo. Hierdie is nog net die begin. Die beste moet nog kom.”

Donjuan van Heerden. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button