News

Die vanghokke is gestel vir Vaalrivier-krokodil

Neem asseblief kennis dat die Croc Spotting-kompetisie op versoek van die SAPD Watervleuel en die krokodilkenner vir 10 dae opgeskort is.

VANDERBIJLPARK – Volgens kenners is dit uiters moeilik om ‘n krokodil in die Vaalrivier, wat oor sowat 1 200km strek, op te spoor en te vang. Maar as daar een man is wat dit kan vermag, is dit Charles van der Merwe van Africa Crocodiles.

SA se eie “Crocodile VDM” het vandag in die Vaal gearriveer en teen net na 13:00 was die eerste vanghok opgerig en die aas is gelê. Rou hoender word as lokaas gebruik.

Twee vanghokke is in die omgewing van Old Willow gestel, een aan die Vrystaatkant en die ander aan die Gautengkant.

Die twee hokke is skuins oorkant mekaar aan weerskante van die Vaalrivier opgestel. Foto: Elsje Vermeulen

Eerder gevang as geskiet

Dit is wonderlik dat Charles sy tyd en ondervinding aangebied het vir die vangs van die krokodil, want anders sou die krokodil van kant gemaak word.

Na suksesvolle aankeer sal die Emerald Resort & Casino se Animal World die krokodil se nuwe, veilige tuiste word.

“Ek is baie bly die SAPD Watervleuel het my gevra om te help. Want dit lyk beslis ‘n slender-snout krokodil te wees, en hulle is nogal skaars in SA,” sê Charles.

Volgens Charles kan dis soms maande neem om ‘n krokodil te vang.

Om die rede is kameras opgestel wat deurlopend op die vanghokke gefokus is. Charles sal dus presies weet sodra die krokodil wel in die hok gevang word.

Hy is van KwaZulu-Natal en sal net tot Woensdag in die Vaal wees, voordat hy huis toe terugkeer.

Hy sal egter dadelik terugkom sodra die krokodil gevang is.

Charles van der Merwe van Africa Crocodiles besig om een van die kameras op te stel. Foto: Elsje Vermeulen

‘n Groot raaisel

Niemand kan met sekerheid sê hoe lank die krokodil, wat vermoedelik sowat 15 jaar oud is, reeds in die Vaalrivier woon nie, of hoe dit hier geëindig het nie.

Daar word egter vermoed dat dit na een van die onderskeie vloede in die Vaalrivier beland het, of dat dit by ‘n krokodilplaas uitgekom het.

Waarnemings van die krokodil

Die krokodil is deur plaaslike inwoner Stephen Smith naby Marlbank in die Vaalrivier gesien, wat daarin geslaag het om ‘n foto te neem.

Die krokodil is ook deur verskeie inwoners in die Old Willow-omgewing opgemerk.

Daar was ‘n R20 000 koopbewys van WaterSports Mania uitgeloof aan die persoon wat die krokodil gewaar en wie se inligting tot die veilige vangs van die krokodil lei.

Croc Spotting-kompetisie opgeskort

Neem asseblief kennis dat die Croc Spotting-kompetisie egter op versoek van die SAPD Watervleuel en die krokodilkenner vir 10 dae opgeskort is.

Daar is kommer dat die ekstra aktiwiteit die krokodil van die vanghokke kan verwilder.

Indien die krokodil die week gevang word sal ‘n kompetisie-prys uitloof word.

Indien dit onsuksesvol is, sal die Croc Spot-kompetisie glo oor 10 dae hervat word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button