News

Driejarige Mason se stryd teen kanker

Vir Mason is elke dag ’n nuwe stryd. Die driejarige het nou die gemeenskap se hulp nodig.

VEREENIGING – ’n Driejarige seuntjie met familie in Leeuhof veg vir sy lewe nadat hy met fase 4 hoërisiko-neuroblastoom gediagnoseer is.

Mason het reeds ’n lang en uitmergelende pad gestap. Hy het ’n groot operasie ondergaan om die primêre gewas te verwyder, sewe rondes intensiewe chemoterapie ontvang en talle bloedtoetse, skanderings en beenmurgbiopsies ondergaan. Hy het ook weke in die hospitaal deurgebring.

Ten spyte van alles, sê sy familie bly Mason dapper en behou hy sy glimlag.

Daar was onlangs goeie nuus toe sy MRI-skandering gewys het dat daar geen nuwe gewasse is nie. Die stryd is egter nog nie verby nie.

Volgens sy familie toon Mason se jongste PET-skandering steeds letsels in sy skelet, terwyl sy jongste beenmurgbiopsie bevestig het dat kankerselle steeds in sy beenmurg voorkom.

Sy volgende stap is ’n stamseloorplanting, gevolg deur hoë-dosis chemoterapie. Daarna het sy onkologiespan immunoterapie met Quarziba (dinutuximab) aanbeveel om sy kans op langtermyn-remissie te verbeter en die risiko van terugval te verminder.

Die behandeling kom egter teen ’n enorme koste.

Volgens die familie word die immunoterapie nie deur hul mediese fonds gedek nie en kan dit meer as R1 miljoen kos.

Die gesin het daarom ’n BackaBuddy-veldtog begin om geld vir Mason se behandeling en mediese sorg in te samel.

Sandra Seedat van Leeuhof, wat met die familie kontak het, het gesê sy verstaan hoe swaar die finansiële las van kankerbehandeling op ’n gesin kan wees.

“Ons het self ’n BackaBuddy gemaak. Dit is so duur – elke 21 dae is dit R125 000 vir chemoterapie,” het Seedat gesê.

Sy hoop die gemeenskap sal Mason se verhaal help versprei en die gesin ondersteun.

Elke bydrae, ongeag die bedrag, kan volgens die familie ’n verskil maak. Mense wat nie kan skenk nie, kan Mason se verhaal en die veldtog met ander deel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button