Uitgehonger tot op die randjie van die dood
Hierdie is weer eens 'n bewys hoekom die plaaslike gemeenskap moet saamstaan teen dieremishandeling.
MEYERTON – Daar is net geen einde aan menslike wreedheid nie. Verhonger tot op die randjie van die dood en in pyn weens ‘n stert wat duidelik afgesny is, het dit verlede Vrydag ure se geduld gekos om ’n doodsbange Pointer-hond te vang.
“Sy liggaam vertel ’n verhaal van honger, verwaarloosing en lyding, maar ons het volhard. Ná twee uur se noukeurige werk om sy vertroue te wen sonder om hom verder te laat skrik, het ons eindelik daarin geslaag danksy dr. Hennie wat tot die redding gekom het,” sê Purrpaws for Life Rescue Centre.
“Maar dít is maar net die begin. Noudat hy veilig is, moet hy deeglik ondersoek en behandel word. Ons moet sy uitgeteerde lyfie versigtig begin voer sodat hy weer sy kragte kan herwin.
“Daar is beserings en littekens wat aandag kort, en hy sal ook ingeënt, ontwurm en reggemaak moet word. En dán, wanneer sy liggaam en hart gereed is, wil ons vir hom die liefdevolle tuiste vind wat hy van die begin af verdien het.”

Niemand weet watter trauma hierdie arme hond moes deurmaak nie, maar danksy die onvermoeide toewyding van Purrpaws for Life en ander diereliefhebbers, sal sy pad vorentoe met liefde en omgee gevul wees.
Die gemeenskap se hulp word dringend benodig om sy mediese sorg en behandeling te dek.
Enige finansiële bydrae, hoe groot of klein, sal met diep dankbaarheid ontvang word.
Betalings kan gemaak word aan:
Purrpaws For Life
Capitec Business Bank
Vanderbijlpark-takkode: 450105
Tjekrekeningnommer: 1050748298
of
Kliprivier Veeartskliniek
Absa Bank 334137
Rekeningnommer: 510152484
Verwysing: Purrpaws