Wen of verloor, Merlin-trofee kom Vaal toe!
Die Meyerton Knights en NWU kom Saterdag (22 Augustus) in die eindstryd op NWU se tuisveld in Vanderbijlpark teen mekaar te staan.
VANDERBIJLPARK – Hierdie Saterdag pak twee Vaaldriehoekse spanne mekaar in die eindstryd van die Valke Rugby Merlin-liga. Wen of verloor, die trofee is vanjaar bestem vir die Vaal!
Die eerstespan van die Meyerton Knights Rugbyklub het die afgelope Saterdag teen Heidelberg Rugbyklub op laasgenoemde se tuisveld te staan gekom.
Die kragmeting het tot in die laaste vyf minute in die weegskaal gehang, maar die Knights het koelkop gebly en nooit opgehou veg nie. Met ‘n 43-33-oorwinning het hulle hul plek in die eindstryd beklink.

In die ander halfeindstryd op Vanderbijlpark het die NWU-studente die giftige Cobras van Sasolburg aangedurf.
Dié wedstryd was eweneens ‘n naelbyter tot die einde.
Met NWU op ‘n naelskraapse voorsprong van 15-13, het dit gelyk of die Cobras op pad was doellyn toe, totdat NWU met ‘n fantastiese onderskepdrie die wedstryd beklink het – die finale spyker in die doodskis.
NWU het uiteindellik met 22-18 seëvierend uit die stryd getree.
Saterdag se eindstryd beloof om ‘n aksiebelaaide kragmeting te wees tussen twee uitblinkers wat die hele seisoen hard gewerk en kookwater-rugby gespeel het.
Tweedespan-eindstryd
As ‘n ekstra bonus haak die twee klubs se tweedespanne ook die koppe in die voorwedstryd-eindstryd.
Die tweedespan-eindstryd skop om 14:40 af, en die eerstespanne pak mekaar om 16:00.
Volledige berig en nog foto’s in Vrydag se Vaalweekblad.


