News

Vaal staan saam na ysige tragedie

Die DBV-span is op dié tragiese dag met 'n hartverskeurende toneel begroet, en ondersoek nou gevalle van wetsoortredings deur sekere eienaars.

VEREENIGING – Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) het verlede week ‘n dringende beroep op die gemeenskap gedoen ná ‘n tragiese voorval waarin talle diere weens ysige koue gesterf het.

Die gemeenskap het dadelik moue opgerol en verskeie organisasies het ingespring om die geaffekteerde diere in Refengkgotso, Deneysville, te help.

“Ons span het gehelp om skadunet as windbreke te installeer om die oorlewende diere teen die bitter koue te beskerm. Terselfdertyd het vee-eienaars die terrein begin opruim en skuilings gebou of herstel,” vertel die DBV.

Hoewel baie diere wel skuiling gehad het, is verskeie strukture deur die sterk winde beskadig of vernietig.

Daar was egter ook gevalle waar diere van die begin af geen voldoende skuiling gehad het nie.

Die DBV ondersoek tans hierdie gevalle, en eienaars wat die wet oortree het, sal dienooreenkomstig vervolg word.

Die DBV betuig hul opregte dank aan die gemeenskap en ondersteuners:

Shade Masters: Vir die vrygewige skenking van skadunet.

Highveld Horse Care Unit: Vir die skenking van skadunet en grasbale.

Quantum Foods: Vir die skenking van veevoer.

Die NSPCA: Vir hul onskatbare bystand.

“Ons bedank elkeen wat hul hart en beursie oopgemaak het. U vrygewigheid het ons in staat gestel om dringende verligting te bring tydens ‘n uiters moeilike tyd.”

* Inwoners van die Vaal word gevra om dit aan te meld indien hulle ‘n dier in nood sien. Skakel die DBV kantoor by 016 422 1505.

Die hartseer toneel wat verlede week in Refengotso, Deneysville, afgespeel het. Foto’s: Vereeniging DBV
Die DBV-span het intussen skadunet as windbreke opgerig om die diere te help beskerm.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button