‘Honey sucker’ beland in rivier
Die voorval het opnuut kommer oor moontlike besoedeling van die rivier laat ontstaan.
OPDATERING 2026/08/21 – 11:20 – ‘Honey sucker’ tap water uit Klein Rietspruit
Die voertuig het nie in die Vaalrivier beland nie, maar was volgens nuwe inligting besig om water vir padwerke te tap.
VANDERBIJLPARK – Die sogenaamde “honey sucker” wat op foto’s langs ’n riviervertakking gesien kan word, het nie in die Vaalrivier beland soos aanvanklik vermoed is nie.
Die voertuig was by die Klein Rietspruit, naby die Rietspruitbrug tussen Vanderbijlpark en Potchefstroom.
Verskeie lesers het Vaalweekblad aanvanklik oor die voertuig se posisie langs die water gewaarsku. Die foto’s, wat Woensdag deur Dorette Meiring geneem is, het kommer oor moontlike besoedeling laat ontstaan.
Marcel van Eeden, ‘n leser, het egter later verduidelik dat die voertuig gereeld op dié plek water uit die Klein Rietspruit tap om tydens padwerke te gebruik.
’n “Honey sucker” is ’n vakuumtenkwa wat gebruik kan word om water, riool of ander vloeistowwe op te suig en te vervoer.
VANDERBIJLPARK – ’n Sogenaamde “honey sucker” – ’n vakuumtenkwa wat riool en ander vloeibare afval opsuig en vervoer – het vermoedelik te ver agteruitgery en in die water by die Rietspruitbrug tussen Vanderbijlpark en Potchefstroom beland.
Verskeie bekommerde lesers het Vaalweekblad oor die voorval genader.
Dorette Meiring, wat foto’s van die voertuig geneem het, sê inwoners stroomaf van die Vaaldam is bekommerd oor moontlike besoedeling van die Vaalrivier.
“Ons woon onder die Barrage en al hierdie vullis besoedel ons rivier op ’n weeklikse basis,” het sy gesê.
Die foto’s is volgens Meiring Woensdag geneem.
Vaalweekblad probeer vasstel aan wie die voertuig behoort, hoe dit in die rivier beland het en of enige afval in die water gestort het.

