News

Emfuleni begin rioolinfrastruktuur herstel ná AfriForum se dringende hofaksie

Regstappe oor rioolbesoedeling van die Vaalrivier het nou tot optrede by twee pompstasies gelei.

VEREENIGING – Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het begin om probleme by rioolpompstasies 8 en 10 in Drie Riviere aan te pak nadat AfriForum hom tot die hof gewend het oor rioolbesoedeling van die Vaalrivier.

AfriForum sê sy regspan het bevestig dat daar reeds met werk by die twee pompstasies begin is om die probleme op te klaar.

Die burgerregteorganisasie het vroeër ’n dringende hofaansoek gebring in ’n poging om die duisende liter rou riool wat volgens hom in die Vaalrivier vloei, te stuit.

Volgens AfriForum beteken die munisipaliteit se optrede dat die onmiddellike doelwit van die dringende deel van sy aansoek bereik is sonder dat dit nodig is om voort te gaan met die dringende interdik wat op 25 Augustus aangehoor sou word.

Ons wil nie eers ná ’n maand uitvind dat daar weer ’n rioolstorting is nie.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek, sê die organisasie verwelkom die munisipaliteit se samewerking en bereidwilligheid om met sy regspan in gesprek te tree.

“Hierdie verwikkeling toon dat regs- en openbare druk daadwerklike optrede teweeg kan bring,” sê Grobbelaar.

AfriForum gaan egter voort met die tweede deel van sy hofaansoek, wat daarop gemik is om inligting oor die bedryf en instandhouding van die rioolinfrastruktuur te bekom en deurlopende verantwoording van die munisipaliteit te eis.

Die organisasie wil onder meer toegang hê tot Emfuleni se planne en tydlyne vir die volledige herstel en rehabilitasie van pompstasies 8 en 10. Dit sluit in wanneer die infrastruktuur na verwagting ten volle operasioneel sal wees en watter stappe gedoen sal word om verdere rioolbesoedeling te voorkom.

AfriForum wil ook hê dat die munisipaliteit hom in kennis moet stel wanneer probleme by die betrokke infrastruktuur ontstaan.

“Ons wil weet wanneer die probleem ontstaan, wat dit veroorsaak het, wat die munisipaliteit daaromtrent doen en wanneer dit opgelos sal wees,” sê Grobbelaar.

Volgens AfriForum bied dié deel van die hofaansoek ’n meganisme om ’n wakende oog oor die stelsels te hou en te verseker dat probleme aandag geniet.

Die organisasie behou ook die reg voor om die hof weer op ’n dringende grondslag te nader indien verdere rioolstortings plaasvind en die munisipaliteit volgens hom nie die nodige stappe doen om dit aan te spreek nie.

AfriForum sê hy verwag dat pompstasies 8 en 10 ná 22 September ten volle operasioneel sal wees, in ooreenstemming met die huidige onderneming en planne.

Die organisasie sê hy sal intussen voortgaan om die situasie te monitor.

Emfuleni het begin met herstelwerk aan rioolinfrastruktuur by pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging, nadat AfriForum hom tot die hof gewend het oor rioolbesoedeling van die Vaalrivier. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button