Vier kitsbanke opgeblaas tydens rooftog by winkelsentrum
Rooftogte van die aard neem toe in die Vaaldriehoek.
ORANGE FARM – Ongeveer tien gewapende verdagtes het vier kitsbanke vroeg Dinsdagoggend, 13 Oktober by die Plus Supermarket-winkelsentrum in uitbreiding 3 opgeblaas.
Volgens ’n mediaverklaring wat namens kol. TG Mofokeng, waarnemende stasiebevelvoerder, uitgereik is, het die voorval omstreeks 01:15 plaasgevind.

Die verdagtes wat met aanvalsgewere en pistole gewapen was, het na bewering eers die geslote hoofhek van die winkelsentrum opgeblaas. Hulle het daarna ’n veiligheidswag uit die wagkamer beveel om na buite te kom en hom gedwing om op die grond te lê.
Enkele minute later het die verdagtes al vier kitsbanke opgeblaas en verskeie skote in die lug afgevuur.
Die verdagtes het te voet van die toneel met ’n sak waarin ’n onbekende bedrag geld was gevlug.
Leë patroondoppies is op die toneel gevind. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help of tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei om na vore te kom.
