Geelbekeend van hang-dood gered
Hulle was al, o.a in 'n mangat af om 'n hond te red, teen 'n elektriese paal op om by 'n kat te kom. Die slag die rivier in vir 'n eend.
VEREENIGING – Die DBV in Vereeniging het die oproep ontvang. Daar was ʼn Geelbekeend/ Yellow-billed Duck wat aan ʼn boom hang langs die rivier in Vosloopark.
Die eend was verstrengel in vislyn. Inspekteurs Eloise Carelsen en Lycinda Visser het dadelik tot aksie oorgegaan.

Om die eend op te spoor was ʼn missie op sy eie. Daar is lank gesoek, maar hy is uiteindelik gevind. Die boom groei in die rivier. ‘n Baie groen en slymerige stuk van die rivier. Lycinda het nie twee keer gedink nie. Sy is deur die water om by die eend uit te kom.
Uiteindelik by die eend het dit ʼn rukkie gevat om die voël uit die vislyn los te knip. Met die eend los, is hy versigtig aan Eloise oorhandig voordat hy na die DBV geneem is. Nadat bevind is dat hy gesond is en nie beseer is nie, het die span hom weer op dieselfde plek gaan vrylaat.
Die DBV sê gesonde wilde diere moet uitgelos word, maar enige wilde diere wat beseer, verstrengel, vasgevang is of in onmiddellike gevaar verkeer benodig hulp. Kontak die DBV dadelik en moenie self probeer om die dier te red nie. Dit kan gevaarlik wees.
Hulle vra ook dat hengelaars seker maak alle vislyn, hoeke en ander vullis word verwyder, want dit stel voëls en ander diere in gevaar.