KYK: Yster slyp yster in Meyerton
Bornman-broers wil Suid-Afrikaanse armdruk na nuwe hoogtes neem.
MEYERTON – In ’n tuisgimnasium in Rothdene word daar nie net spiere gebou nie. Hier word internasionale ambisies geslyp, tegnieke verfyn en planne beraam om Suid-Afrikaanse armdruk sterker as ooit op die wêreldverhoog te verteenwoordig.
Vir Riekerd Bornman (23) het die droom reeds ’n stewige fondament. Die Meyertonner het ’n onoorwonne rekord van ses oorwinnings en geen nederlae by die internasionale East vs West-reeks opgebou.
Nou wil hy en sy jonger broer, Duvan, dié momentum gebruik om nuwe deure vir hulself én ander Suid-Afrikaanse armdrukkers oop te stoot.
Die jong Leandro Cordier (24) van Nelspruit het onlangs by die broers in Meyerton aangesluit vir ’n week se gesamentlike voorbereiding. Hoewel hy betreklik nuut in die sport is, beskou Riekerd hom as ’n uitsonderlike talent.

“Om hom hier in my agterplaas te hê, is vir my een van die coolste dinge. Nie net om ’n paar truuks te leer nie, maar ook vir hom om ’n paar truuks by ons te leer,” sê Riekerd.
Die oefensessies bied meer as net nog ’n geleentheid om krag te meet. Vir Riekerd is sy broer sy gewone oefenmaat, maar ’n nuwe teenstander bring ander tegnieke, uitdagings en geleenthede om te leer.
Sy eie voorbereiding het ook ’n groot hupstoot gekry danksy ’n borg wat in sy potensiaal belê het. Die gespesialiseerde toerusting in sy tuisgimnasium het volgens Riekerd ’n droom bewaarheid en hom die geleentheid gegee om sy voorbereiding na ’n nuwe vlak te neem.
“Ek is gebore om ’n atleet te wees en die beste te wees.”
— Riekerd Bornman
“Ek is gebore om ’n atleet te wees en die beste te wees,” sê hy.
Intussen kyk die Bornman-broers verder as hul eie loopbane. Duvan het die Mzanzi Power League (MPL) gestig om Suid-Afrikaanse armdrukkers ’n platform te bied waar die land se beste teen mekaar kan meeding en internasionale aandag kan trek.
Die liga se eerste byeenkoms het op 3 Oktober plaasgevind. Volgens Duvan was die terugvoer positief, met atlete wat die geleentheid gekry het om hul vaardighede in betekenisvolle kragmetings te toets. Die kompetisies word ook gratis regstreeks uitgesaai, sodat kykers oorsee die plaaslike talent kan ontdek.
“Ons het verskriklik baie talent in hierdie land,” sê Duvan. “Die doel is om die beste van die beste teen mekaar te laat druk en vir Suid-Afrikaners ’n platform te gee.”
Die volgende paar maande kan deurslaggewend vir die broers se internasionale ambisies wees.
“Ons het verskriklik baie talent in hierdie land.”
— Riekerd Bornman
Duvan beoog om op 12 Desember in Las Vegas teen die Kazakse armdrukker Arthur Morozov kragte te meet. Hy beskryf dit as die grootste kragmeting van sy loopbaan tot dusver.
Daarna wag nog groot uitdagings in 2027. Duvan beplan om op 27 Februarie in Kazakstan om die junior wêreldtitel mee te ding teen Theomanh van Turkye.
In Maart beoog die broers om aan byeenkomste van die 98% Arm Wrestling-organisasie in Philadelphia deel te neem. Riekerd mik na ’n linkerhand-kragmeting teen ’n sterk Noord-Amerikaanse teenstander.
Leandro se volgende groot kans kan by East vs West se uitkloptoernooi kom. ’n Oorwinning daar kan hom ’n plek op die hoofprogram besorg.
Vir die Bornman-broers gaan die groter droom egter verder as persoonlike titels. Hulle wil internasionale teenstanders na Suid-Afrika bring sodat plaaslike atlete hulself teen verskillende style kan toets en die wêreld kan sien waartoe Suid-Afrikaners in staat is.
Die werk begin in Rothdene, een oefensessie op ’n slag.
Yster slyp yster – en Meyerton se armdrukkers is vasbeslote om te wys hoe skerp Suid-Afrikaanse staal kan wees.
