Bibliotekaresse se eerste boek op die rak
Ou Kaapse verhale wat in die 17de eeu afspeel fassineer haar en nou het Moira Frost haar eie boek in die genre neergepen.
MIDVAAL – Moira Frost is al vir jare werksaam by Randvaal biblioteek. Sy was van kindsbeen lief vir lees en om haar eie stories te skryf. Sy het in standerd 6 haar eerste boek met die hand geskryf.
Dit was eers nadat sy aanlyn skryfkursusse gedoen het, dat sy haar op haar skryfwerk toegespits het. Haar eerste roman, Die strooipop van Spesery Eiland, is onlangs deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.
Dis ʼn Ou Kaapse verhaal wat in die 17de eeu afspeel en bevat hope drama, intrige, avontuur en humor. Moira sê sy het heelwat navorsing gedoen voordat sy die boek aangedurf het.
“Ek moes as een van my take in ʼn aanlynskryfkursus ʼn roman voorlê. Die karakters het in my kop bly spook en ek het die oorspronklike storie verder uitgebrei en geskryf,” vertel sy.
Sy het nog altyd in geskiedenis belanggestel en dis waar haar lekker om die Ou Kaapse tyd weer lewe op papier te gee. Moira is reeds besig met haar volgende boek wat beloof om heelwat kinkels in die kabel te hê.
Die Strooipop van Spesery Eiland is op Amasone en by malherbepublishers.co.za beskikbaar. Dit behoort ook in alle groot biblioteke te wees.
