Drie lewenslange vonnisse vir verkragting van kinders
Drie kinders was onderskeidelik sewe, nege en tien jaar oud toe die seksuele misbruik begin het.
VEREENIGING – ’n Man wat drie minderjarige meisies oor ’n tydperk van etlike jare verkrag en seksueel aangerand het, is op 6 November in die streekhof in Vereeniging tot drie termyne van lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Die vonnis kom enkele weke voor die aanvang van die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme
Die man is op 26 Augustus op al tien aanklagte teen hom skuldig bevind.
Dit sluit drie aanklagte van verkragting, drie van seksuele aanranding, drie van blootstelling van minderjariges aan pornografie en een van aanranding met die opset om ernstig te beseer in.
Twee van die slagoffers is sy biologiese kinders, terwyl die derde sy broerskind is.
Volgens die staatsaanklaer het die kinders saam met die man op ’n kleinhoewe buite Vereeniging gewoon. Die misdrywe is oor ’n tydperk tussen 2019 en 2024 gepleeg.
Die misbruik het aan die lig gekom nadat een van die kinders tydens ’n besoek aan iemand in Virginia in die Vrystaat daaroor gepraat het.
Tydens die assessering van dié kind het inligting oor die misbruik van die ander twee kinders na vore gekom.
Die jongste kind is daarna uit die man se sorg verwyder. Beserings is tydens ’n ondersoek aan haar gevind. Die man het haar ook met sy vuiste geslaan.
Streeklanddros Retha Willemse het die man op elk van die drie aanklagte van verkragting tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Hy is op elk van die oorblywende sewe aanklagte tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die hof het gelas dat sy besonderhede in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders en Deel B van die Nasionale Kinderbeskermingsregister opgeneem word.
Hy is ook ongeskik verklaar om met kinders te werk.
Die slagoffers moet ingelig word oor hul reg om vertoë tot die paroolraad te rig indien die man in die toekoms vir parool oorweeg word.
