News

Sasolburger wil robotmaatjie lewe gee

Vir eers wag die grootste toets egter op hom om Russell van ’n digitale ontwerp in ’n werkende robot te omskep.

SASOLBURG – Vier jaar gelede wou Petrus Jansen van Vuuren (30) bloot vir sy kinders ’n robotmaatjie koop. Vandag is dié selfgeleerde uitvinder besig om sy eie robot te ontwikkel wat selfs sy eienaar se gesig sal kan herken en nader sal kom wanneer hy geroep word.

Die robot, Russell, is vernoem na die gesin se geliefde hond, ’n dwergkeeshond.

Van Vuuren, ’n selfstandige elektrisiën en installeerder van sonkragstelsels, woon reeds sowat agt jaar in die Vaaldriehoek.

Sy belangstelling in robotika, elektronika, kunsmatige intelligensie (KI) en programmering het daartoe gelei dat hy verskeie aanlyn kursusse voltooi het.

‘n Voorstelling van hoe Russel kan lyk.

Die idee vir Russell het ontstaan toe hy gesukkel het om ’n bekostigbare metgeselrobot in Suid-Afrika te bekom. Die koste verbonde aan die invoer van sulke robotte, asook hul afhanklikheid van internetverbindings, het hom laat besluit om sy eie weergawe te ontwikkel.

Russell is ontwerp om sowat 20 cm hoog te wees, met ’n beweegbare kop, twee arms, ’n digitale gesig en rusperbande waarmee hy kan rondbeweeg.

Van Vuuren beoog dat Russell gesprekke sal kan voer, stories vertel, dans, speletjies speel, hindernisse vermy en self na sy laaistasie terugkeer. Die robot sal ook vorige gesprekke kan onthou en oor sekere funksies beskik wat sonder ’n internetverbinding kan werk.

Hoewel Russell nog nie in fisiese vorm bestaan nie, sê Van Vuuren dat die digitale ontwerp, sagteware en ingenieursplanne vir die eerste prototipe voltooi is.

Hy gebruik tans ’n rekenaartoepassing om Russell se gespreksvermoë, persoonlikheid en gedrag te toets. Digitale simulasies is ook gebruik om onder meer die robot se beweging, navigasie en batteryverbruik te ondersoek.

Van Vuuren het die ontwikkeling onafhanklik aangepak, maar het volgens hom ook van die dienste van ingenieurs en ander tegniese spesialiste gebruik gemaak om sy werk te beoordeel.

Hy beraam dat hy die afgelope vier jaar sowat R1 miljoen uit sy eie sak aan die projek bestee het.

Nadat sy werkskontrak onlangs tot ’n einde gekom het, het dit al moeiliker geword om die ontwikkeling self te finansier. Hy sê hy het die afgelope ses maande ook die meeste van sy persoonlike besittings verkoop om geld vir die projek in te samel.

Sy mikpunt is om Russell uiteindelik in Sasolburg te vervaardig en teen sowat R6 000 per eenheid te verkoop, mits produksiekoste dit toelaat.

Van Vuuren droom ook daarvan om opvoedkundige robotte te ontwikkel wat kinders aan wetenskap, elektronika, programmering en kunsmatige intelligensie kan bekendstel.

Russell is nie sy enigste uitvinding nie. Hy het ook PhaseSentinel, ’n intelligente driefase-elektriese beskermings- en moniteringstelsel, ontwikkel waarvoor hy volgens hom reeds ’n voorlopige patentaansoek ingedien het.

Vir eers wag die grootste toets egter op hom om Russell van ’n digitale ontwerp in ’n werkende robot te omskep.

Van Vuuren het ’n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om R104 500 vir onder meer 3D-drukkers, elektroniese komponente, die bou van prototipes en veiligheidstoetse in te samel. Hy hoop om binne ses weke nadat die nodige geld bekom is, ’n werkende prototipe te kan demonstreer.

Meer besonderhede oor die projek is beskikbaar by www.backabuddy.co.za/campaign/help-bring-russell-to-life.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button