SASOLBURG – Wanneer Chané van Rensburg van die Hoërskool Sasolburg oor atletiek praat, word daar nuwe lewe in haar wese ingeblaas.
Daar is ‘n vonkel in haar oog. Sport, maar veral atletiek, was nog altyd na aan haar hart, erken sy.
Sy is onlangs as die Vrystaat se verspringafrigter vir die SA Skole-atletiek se nasionale kampioenskappe in Rustenburg aangestel, maar haar atletiek-reis het lank voor hierdie hoogtepunt begin.
Chané se liefde vir die sport het reeds op skool posgevat, toe sy self ’n belowende jong atleet was. Vir haar was die atletiekseisoen die glanspunt van haar jaar.
Saam met haar kollega, Andrea Cumming, is sy nou die verspringafrigter by die Hoërskool Sasolburg. Maar hoe het sy by spronge betrokke geraak?
Sy glimlag wanneer sy terugdink aan die dag waarop alles verander het.
“Ek onthou dit nog soos gister. Ek was in graad 11 besig om vir die 400m-hekkies te oefen toe my afrigter my genader het en gevra het of ek nie driesprong wil probeer nie.”
Daardie uitnodiging het die koers van haar atletiekloopbaan verander en sy het nooit teruggekyk nie. Sy het ‘n nuwe minnaar in driesprong gevind.
“Dit was harde oefening,” vertel sy. Met daaglikse gimnasiumprogramme én afrigtingsessies het sy haar tegniek verfyn.
As afrigter het sy baie ure ingesit om haar kennis te verbreed. “Ek moes myself baie dinge leer. Ek het van YouTube video’s tot Instagram ‘reels’ gekyk, vertel sy.
Tog het sy ook formele opleiding voltooi en sy spog vandag met kwalifikasies as ’n ASA Vlak 1- en VSAAV Vlak 2-afrigter.
Sy bied selfs die jaarlikse VSAAV-kursusse in Bloemfontein en Sasolburg aan. Sy erken ruiterlik dat mentors ’n groot rol in haar ontwikkeling gespeel het.
Sy praat met groot respek oor haar hoërskoolafrigter, Leroux Jordaan, en oor die legendariese Terseus Liebenberg, vir wie sy as hoofafrigter by kursusse saamwerk.
Hulle het haar groot lewenslesse geleer waarvan die vernaamste is om geduldig met haarself te wees.
“Rome was nie in eendag gebou nie,” sê sy. Maar haar grootste dryfkrag lê in die vreugde om jong atlete te sien groei.
“Die mees vervullende en lekkerste deel van afrigting is om te sien hoe ’n atleet deur klein suksesse begin om in hulself te glo.”
Om gemotiveerd te bly, delf sy voortdurend in internasionale tegnieke en vernuwing in. “Ek kyk BAIE video’s. Ek analiseer spronge in geheel.” Wat die nuutste veertjie in haar atletiekhoed betref, is sy nederig en dankbaar.
“Om eerlik te wees, ek het nooit gedink dat ek so groot sukses sou behaal nie. Dis vir my so groot voorreg. Ek is steeds stomgeslaan.”
Sedert Oktober berei sy en haar span fisies én geestelik voor. By elke byeenkoms het elke atleet persoonlike afstanddoelwitte gehad en hul prestasies spreek boekdele.
Volgens haar is die sleutel tot sukses eenvoudig.
“Deursettingsvermoë. Daag net op. Die res sal in plek val.
Vir haar is driesprong nie net ’n item op ’n program nie, dit is ’n roeping, ’n kuns en ’n sprong tussen talent en triomf.
Haar familie vier glo ook elke mylpaal saam met haar. Hulle is die wind onder haar vlerke en vanjaar spring haar Vrystaatatletiekfamilie saam met haar.
