VANDERBIJLPARK – Vir meeste sportlui bly nasionale erkenning net ‘n droom.
Vir die Vaaldriehoek se Wikus Botha het daardie droom onlangs ‘n werklikheid geword toe hy as Krieket Suid-Afrika (KSA) se Plattelandse Speler van die Jaar aangewys is.
Toe sy naam aangekondig is, was dit nie net die pot goud aan die einde van die reënboog wat vir hom saakgemaak het nie.
Dit was die mense wat die pad saam met hom gestap het. “Sonder twyfel trots en toe ‘n oorweldigende gevoel van dankbaarheid.
Ek het nog nooit vir erkenning gespeel nie, maar jissie dis lekker as so iets oor ‘n mens se pad kom. Ek het onmiddelik aan my gesin, spanmaats, afrigters, mentors en elke persoon wat in my geglo het ook erkenning gegee,” het Botha oor sy groot prestasie gesê.
Die 39-jarige Botha glo sy ouderdom was eerder ‘n voordeel as ‘n nadeel. “Ek dink dit maak hierdie toekenning selfs meer betekenisvol. In sport is daar altyd die persepsie dat jou beste jare vroeg in jou loopbaan is.
Vir my bewys dit dat ervaring, dissipline en ‘n bereidwilligheid om voortdurend te leer net so belangrik is. Ouderdom hoef nie ‘n beperking te wees nie.” Die sukses het egter nie sonder opofferings gekom nie.
“Daar was baie vroeë oggende, laat aande en naweke wat opgeoffer is. Tyd saam met my gesin was soms beperk. Daar was ook fisiese opofferings. Harde oefening, rehabilitasie en die dissipline om voortdurend fiks te bly.” Sy vrou, Rochelle, en hul dogtertjie, Famke, was deurentyd sy grootste steunpilare.
“Sy en Famke maak my lewe lekker en ek wil die reis met geen ander persoon aanpak nie. Hierdie toekenning behoort net soveel aan haar as aan my.” Ná ‘n ernstige kniebesering het hy nooit aan sy vermoë begin twyfel nie, maar wel gewonder of sy liggaam sou hou.
Ná ‘n operasie en ‘n lang rehabilitasieprogram het hy homself belowe hy sal sterker terugkeer. ‘n Belofte wat hy nagekom het. Buite die grenstoue leef Botha sy passie as onderwyser, afrigter en voorsitter van Fezile Dabi Noord Jeugkrieket uit.
“Onderwys is ‘n roeping. Ek probeer elke dag om ‘n positiewe verskil in elke kind se lewe te maak.” As afrigter put hy sy grootste vreugde uit die ontwikkeling van jong spelers.
“Trofeë is ‘n bonus, om die groei in my spelers te sien is waaruit ek die meeste genot put.” Maar sy doelwitte is nog lank nie bereik nie. “Vir my persoonlik is die volgende mikpunt om die Protea oor 40-span te haal en SA in ‘n wêreldbekertoernooi te verteenwoordig.”
Hy glo ook die Vaaldriehoek beskik oor alles wat jong sportlui nodig het om hul drome te verwesenlik. “Jy het nie nodig om buite die Vaaldriehoek te gaan as jy dit wil maak as ‘n professionele sportman of -vrou nie. Hier is genoeg kennis en passie.”
Wanneer hy eendag terugkyk op sy loopbaan, hoop Botha mense onthou hom nie vir sy statistieke nie, maar vir sy positiewe invloed.