
As galbraak ’n Olimpiese sport was, sou die All Blacks wêreldkampioene wees. Veral hul breier, Dave Rennie, is erger as ’n tannie met ’n nat bloomer. Liewe land! Aanvaar dat die Springbokke julle met 3-1 in die toetsreeks geklop het.
Aanvaar die nederlaag met waardigheid en gee die keiser wat hom toekom. Die Springbokke is op die kruin van wêreldrugby se ranglys.
Soos die Engelsman sê: “Deal with it!” Of soos die oud-Springbok en rugbylegende Boy Louw altyd gesê het: “Looks at the scoreboard.”
Sy begrip van tenses was miskien nie waffers nie, maar rugby het hy geken. So haal ek hom graag aan. Kyk, as dit nie was dat die uwe Sondagoggend verslaap het nie, sou ek sekerlik met my Springboktrui kerk toe gewals het.
Hierdie toetsoorwinning, wat in Amerika beslis is, is vir my persoonlik soeter as om die Wêreldbeker te wen.
Om die William Webb Ellis-trofee omhoog te hou, is die hoogste eer in rugby, maar om ’n toetsreeks van vier toetse met 3-1 teen die All Blacks te wen nadat jy 1-0 agter was, is ’n stukkie geskiedenis waarop ek met trots sal terugkyk op my oudag.
Wat my die meeste kwel, is die ou suurgatte, en ek praat nie net van die oorsese rugbykenners nie. Ek praat van oudspelers wat weer probeer relevant wees deur stellings oor huidige spelers te maak. Ou boeta, ek gee nie om in watter era jy gespeel het nie. Die huidige Springbokgroep is strate beter as enige van hul voorgangers.
Man vir man sal hulle jou kop in jou agterstewe opdruk. Die fisiekheid van hul spel en hul vaardighede is ongeëwenaar. Ja, Suid-Afrikaanse en wêreldrugby het legendes opgelewer, en era vir era was daar monsters en maestro’s van die spel.
Om verskillende eras en spelers teen mekaar op te weeg, is sinneloos. Reëls, kondisionering, spelpatrone, ens. het verander. In hierdie geval gaan ek ’n blaadjie uit oom Boy Louw se boek skeur en sê: “Looks at the trophy cabinet!”
Suid-Afrika het die Wêreldbeker in 1995, 2007, 2019 en 2023 gewen en sal volgende jaar in Doer Onder, in Australië, probeer om dit drie keer agtereenvolgens te wen.
Geen span kon dit al ooit tevore vermag nie. Kom ons hoop en bid dat die Springbokke nie te vroeg hul beste spelpeil bereik het nie.
Darem het dr. Rassie Erasmus ’n poel van 150 wêreldklas-spelers geskep waaruit hy kan kies. Oorsese sportskrywers maan dat dr. Erasmus dalk te veel op sy oumanne in die groep gaan staatmaak, maar ek dink nie so nie.
Sy mengsel is reg. Jeug en ervaring is daar. Almal wat rugby en sport ken, weet ervaring wen Wêreldbekereindstryde