News

Duisende durf Vaal River City-marathon aan

Die wedloop het aan atlete ’n vroeë kans gebied om vir die Comrades en Twee Oseane te kwalifiseer.

VANDERBIJLPARK – Tshepo Gavu en Moleboheng Matlakeng het met die louere in die 42,2km-afdelings van die agtste Rand Water Vaal River Citymarathon weggestap.

Die byeenkoms het by die Vaal Universiteit van Tegnologie se Isak Steyl-stadion plaasgevind en het na verwagting sowat 4 000 atlete gelok.

Atlete in aksie tydens die 10km-wedloop. Foto: Christiaan Cloete

Gavu van Actom Atletiekklub het die marathon in ’n vinnige tyd van 2:17:55 gewen.

Matlebyane Kudumela van Northam Platinum Mine Atletiekklub was tweede in 2:19:11, met Lucas Jani van Thungela Atletiekklub derde in 2:31:26.

Vanderbijlpark se eie Tshepo Gavu het die marathon gewen. Foto: Christiaan Cloete

Matlakeng, ‘n atleet van Lesotho wat vir die Maxed Elite-klub hardloop, was die eerste vrou oor die eindstreep en het met haar tyd van 2:55:33 onder die drie-uur-kerf gebly.

Karin-Mari Dötze van Nedbank Running Club in Vanderbijlpark was tweede in 2:59:29, terwyl Rose Jijana van Actom Atletiekklub derde in 3:04:29 geëindig het.

Samantha Prokopiou van Meyerton Atletiekklub was sewende in 3:25:58.

Moleboheng Matlakeng van Lesotho was eerste oor die wenstreep in die vrouewedloop. Foto: Christiaan Cloete

Itumeleng Phala van Impala Marathon Club het die mans se 21,1km-halfmarathon in 1:08:45 gewen.

Joel Mmone was tweede in 1:09:24 en Griffiths Manyedi derde in 1:11:24. Cornelia Joubert van Boxer Atletiekklub het die vroueafdeling van die halfmarathon in 1:22:57 gewen.

Lauren Kruger van Nedbank Running Club in Vanderbijlpark het die tweede plek in 1:23:54 behaal, met Isabella Dicks derde in 1:25:59.

Atlete van die Hollywood Bets-atletiekklub geniet ‘n ligte oomblik tydens die Vaal River City Marathon. Foto: Christiaan Cloete

Benewens die marathon en halfmarathon kon deelnemers ook aan ’n 10km-wedloop en 5km-pretstap deelneem.

Die marathon het aan atlete ’n vroeë geleentheid gebied om vir die Comrades- en Twee Oseane-marathon te kwalifiseer.

Die byeenkoms is deur die Dr Oliphant Institute of Leadership, in samewerking met Lekoa Atletiekklub en Atletiek Suid-Afrika, aangebied.

Sechaba Oliphant het die organisering daarvan gekoördineer.

Die sub 03:00-bus op pad na die eindstreep van die Vaal River City Marathon. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button