
Ons is al drie weke in die jaar in en daar is nie sprake van spoed vang nie, ons is op spoed.
Emalahleni het die afgelope paar weke haar kwota hartseer ervaar.
Eers het ’n ma haar vier kinders vergiftig, toe word ’n vrou deur haar vervreemde man geskiet voor hy selfmoord gepleeg het en toe word ’n weerlose baba langs die pad gevind.
Sy is net daar gelos om vir haarself te baklei teen die natuur se elemente.
Die vraag wat ons onsself afvra is, wat gaan aan in dié stad?
Dit is asof euwel die stad toevou in ’n kombers.
Talle lesers het dadelik gereageer op die berig van die Klarinet ma wat haar kinders vergiftig het en haar gestenig.
Tog was daar ’n handjievol wat die anderkant van die situasie raakgesien en die lig op depressie geplaas het.
Ons weet nie regtig wat op daardie oomblik deur haar gedagtes gegaan het nie. Ek kan myself nie eens indink watter warboel van emosies sy deurgegaan het nie.
Tydens die hofsitting wou ek haar aanraak en kyk of ek dalk net iets in haar oë kon sien.
My eerste vraag aan haar sou wees, wat het jou besiel?
Ek is ook ’n ma en ek weet ek het al baie keer gevoel om my kuikens te ‘vermoor’.
Ons is menslik en ongelukkig kom die bloedjies nie met handleidings uit nie.
Ek het ook al lus gevoel en los die kuikentjies by die Engelsman en boek myself in vir slaapterapie.
Dit word darem weer beter en die son skyn weer en die kuikens maak jou hart weer sag en jy gaan weer aan.
Ons as ma’s moet vir onsself so dan en wan ’n tydjie afknyp.
Al is dit net vir ’n koppie koffie saam met vriende, ’n drie ure lange borrelbad of net op die bed lê en boek lees.
Dis ons tyd, tyd waartydens ons weer kan asemhaal en ons batterye ‘recharge’.
Dus is my nuwejaarsvoorneme om meer van myself aan myself te gee.
