
Wanneer ’n man sy vrou aan die dood afstaan, is hy ’n wewenaar.
Wanneer ’n vrou haar man aan die dood afstaan is sy ’n weduwee.
Wanneer ouers ’n kind verloor is hulle steeds ouers.
Ek sit die naweek en hou ’n ma, wie se kind onlangs dood is, se hande vas.
Tyd vir die pragtige vrou het tot stilstand gekom.
Die dwelmmonster, wat vet gevoer word deur dwelmsmouse, het sy takels in die vrou se seun ingeslaan.
Die gewetenlose, geld-honger, gesiglose dwelmsmouse vee nie die trane van dié ma se wange af nie.
Hulle hoor nie die snikke wat rou uit haar bors skeur nie.
Die dwelmmonster ontsien niemand nie en het ook geen voorkeure nie.
Pragtige kinders wat uit goeie huise kom, ryk, arm of middelklas, almal is potensiële prooi vir dié verwoester van lewens.
Dit ruk gesinne uitmekaar en roei ouers finansieel uit.
Die gebroke en seer hart van ’n ouer wat ’n kind lewendig verloor het, vul ’n mens met ’n gevoel van hulpeloosheid.
Jy kry hulle bitter jammer, maar wat kan jy doen om te help?
Wat het van ons regstelsel geword?
Dit voel asof dwelmhandelaars meer regte het as die ouers wat met die bitterste seer sit.
Op pad terug huis toe is ek in gesprek met God en probeer sin maak van die lewe, dood, dwelms, jong mense, ouers, liefde . . . en hartseer.
My gedagtes bly maal om die ma en ek besef dit is die stilte na die storm wat mens die hardste tref.
Wanneer die wind uit jou seile gehaal word en jy kragteloos besef jy het nie die krag om vorentoe te beweeg nie. Wanneer die blomme wat jy van vriende ontvang het begin verlep, die boodskappe minder word en tyd weer ’n realiteit word.
Ek en die Engelsman gesels tot laataand toe oor die sirkel van die lewe.
Die een oomblik staan jy by die wiegie van jou pasgebore kind, aangegryp deur die Goddelike wonder van die lewe.
Die volgende oomblik staan jy by die graf van ’n geliefde en wonder oor die waarom van die dood.
Geen sirkel het ’n begin of einde nie. Geen ouer se liefde het ’n begin of einde nie.
