Meisie (16) verkrag en verwurg: Man swaar gevonnis in Mosselbaai
Jamie Lee Julius (16) van Oudtshoorn is op 'n plaas buite Groot-Brakrivier verkrag en vermoor deur 'n 33-jarige man.
Johan Counter (33) is Donderdag in die Mosselbaai-streekhof tot twee keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord en verkagting van die 16-jarige Jamie Lee Julius op ‘n plaas buite Groot-Brakrivier.
Jamie Lee se liggaam is op 29 Januarie 2023 op die plaas Vadersgawe deur haar 20-jarige suster agter ‘n watertenk in modderwater ontdek.
Die slagoffer het op Oudtshoorn gewoon maar het ten tye van die gebeurtenis by vriende van haar ouers, wat op die plaas naby Sorgfontein woon, gekuier.
Sy is later die aand skaars 4m vanwaar hulle binne ‘n plaashuis gekuier het, verkrag en verwurg.
Volgens haar vriende was die musiek in die huis hard en het almal saam in ‘n vertrek gekuier. Hulle het haar waarskynlik nie gehoor skree nie weens die harde musiek.
Counter woon op Friemersheim maar is oorspronklik van Noupoort. Hy het op ‘n plaas in die omgewing gewerk en was ‘n neef van een van die partytjiegangers.
Hy het skuldig gepleit op die aanklagte teen hom, maar het volgens die landdros wat hom gevonnis het ook nie eintlik ‘n keuse gehad nie aangesien DNS-resultate hom met die verkragting verbind het.
Hy is een keer lewenslank gevonnis vir verkragting en een keer lewenslank vir moord.
Die ondersoekbeampte in die saak was Adjudant-Offisier Alistair Rezant van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com