Werkende ouers word uitgebuit
"Genoeg is genoeg'', Brakpan-Noord, skryf per e-pos: Ek wil graag my misnoeë en frustrasie aangaande sommige kleuterskole uitspreek.

Ek is ‘n enkel werkende ouer wat slegs 15 dae verlof per jaar kry.
Gedurende die tydperk wat my kind se kleuterskool toemaak, in Desember, is ek verplig om reeds 12 dae daarvan te gebruik omdat ek geen ander heenkome het vir my kind nie.
Wat my nou onstel is al die ekstra dae gedurende die jaar, wat hulle “kleuterskool vakansiedae” noem, wanneer dit naby ‘n publieke vakansiedag val.
In September het die kleuterskool besluit om die 22ste en 23ste September ook te sluit, wat beteken dat ek nog twee dae verlof moet neem. Dit is buiten die ander dae wat hulle reeds toe was gedurende die jaar.
Dus het ek nie genoeg verlof om al hulle “vakansie dae” te akkomodeer nie, wat doen ek nou?
Vat ek onbetaalde verlof of kry wel ‘n plekkie vir my kind, waar ek ekstra sal moet betaal?
Moet ek nog steeds die kleuterskool se volle maandelikse fooi betaal?
Ek wil graag weet of daar dalk nog ‘n kleuterskool bestaan wat se doel is om die werkende ouer te ondersteun en nie die houding inneem dat hulle ons eintlik ‘n baie groot guns doen om na ons kinders om te sien nie.
Ek sal ook graag wil weet hoe voel ander ouers daaroor dat mens naskool vir ‘n volle maand moet betaal wanneer dit skoolvakansie is en jou kind en die onderwyser nie eers vir ‘n groot deel of hele maand dit bywoon nie.
Dit is blatante uitbuitery en geldgierigheid.



