Susan die skrynwerker gelukkig tussen hout
Susan Martinez werk lang ure, maar is nooit te moeg om houtwerk te doen nie.

Susan Martinez werk lang ure, maar is nooit te moeg om houtwerk te doen nie.
Dié ma van drie volwasse kinders en ouma van een sit nooit stil en haar hande staan vir niks verkeerd nie.
Sy het jarelank koek gebak en sjokolade gemaak vir ’n inkomste.
Twee jaar gelede was sy ’n huisvrou in die Kaap, werk was skaars en op ’n dag het sy, met die aanmoediging van haar lewensmaat wat vir haar palette van die werk af gebring het, besluit om te begin houtwerk doen.
Toe het die gogga haar gebyt.
Gou het sy die kuns bemeester en het haar tafeltjies en stoeltjies vir kinders, blombakke, kruiehouers, hondebeddens en vele ander houtartikels gewilde geskenke geword.
Kathuise met trappies, krappale en mat is ook maar net nog een van die gewilde geskenke wat sy optower.
Susan het twee katte waarvoor sy baie lief is en hul kathuis staan ook gereed wanneer hulle dit wil benut.
“Wanneer ek houtwerk doen, gee ek my gedagtes vrye teuels en ontspan heeltemal,” het Susan gesê.
Sy mors nie ’n stukkie hout nie en maak speelblokkies wat saam met die tafeltjies en stoeltjies verkoop word met die klein stukkies hout.
Elke artikel word kunstig met die hand geverf en elke item, wat haar werkswinkel verlaat, het sy eie identiteit.
Susan is baie dankbaar vir vriende wat hul motorhuis vir haar as werkswinkel aangebied het en is op haar gelukkigste as sy daar kan skep.
Sy sien die potensiaal in elke stukkie hout en vorm baie gou ’n prentjie in haar gedagtes oor wat sy met die hout gaan doen.
As sy die dag vry het, maak sy maklik ’n tafeltjie en twee stoeltjies op ’n dag klaar.
Sy hou haar ook besig met haar stokperdjie, wat ’n welkome aanvullende bron van inkomste is, voor sy soggens gaan werk.
Nooit ’n vervelige oomblik vir dié besige vrou nie.
Susan het vir Agga bedank vir die bemarking wat sy vir haar doen en haar ondersteuning.
Indien jy meer van Susan se houtwerk wil weet whatsApp of SMS haar gerus by 082 372 5565.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



