Municipal

Bruin modderwater vloei uit krane in Ermelo ná waterkrisis

Reservoirvlakke herstel, maar inwoners kla oor vuil water en lae druk in Ermelo.

ERMELO – Ná byna vier dae van ernstige wateronderbrekings in groot dele van Ermelo het sommige inwoners uiteindelik weer water begin ontvang, hoewel klagtes oor lae druk, vuil water en voortgesette onderbrekings in sekere gebiede steeds instroom.

Die Msukaligwa Plaaslike Owerheid het in sy jongste opdatering bevestig dat beide die suidelike en noordelike watervoorsieningstelsels tans optimaal funksioneer en dat reservoirvlakke geleidelik herstel.

Inwoners is egter gewaarsku dat druk gedurende spitstye in die oggende steeds kan wissel totdat die stelsel volledig gestabiliseer het.

Die langdurige onderbrekings het gevolg nadat probleme by die Departement van Water en Sanitasie se Usutu River Government Water Scheme ontstaan het.

’n Kragtoevoerfout het glo pompe by die Jericho-rouwaterabstraksiestelsel geraak, wat die toevoer van rou water na die munisipaliteit ontwrig het en die Suidelike waterbehandelingswerke direk beïnvloed het.

Hoewel die plaaslike owerheid aangedui het dat reservoirvlakke geleidelik verbeter, bly verskeie reservoirs kritiek laag.

Die Suidelike reservoir was gisteraand op 30%, terwyl die nuwe Suidelike reservoir en die Suidelike toring elk slegs 5% bereik het. Uitbreiding 34 was op 10%, Thafa op 20% en Warburton op 30%.

Ander gebiede het intussen aansienlik beter herstel, met Breyten, Thabo Mofutsanyana, KwaZanele, KwaChibikhulu en Silindile se reservoirs wat reeds op volle kapasiteit was.

Inwoners het egter hul frustrasie oor die situasie en die munisipaliteit se hantering daarvan uitgespreek.

Sommige inwoners het berig dat water wel begin terugkeer het, maar dat dit soos bruin modderwater met ’n sterk rioolreuk uit hul krane vloei.

Indien jy nie die video kan sien nie, besoek ons YouTube-kanaal, HIER

Een inwoner het gesê dat die vuil water wat deur JoJo-tenkstelsels beweeg, skade aan pompe en motors veroorsaak en moontlik tot duur herstelwerk kan lei.

Ander inwoners het gesê water het slegs sporadies en teen baie lae druk teruggekeer voordat dit weer verdwyn het.

Die voortdurende wateronderbrekings het ook sanitêre probleme laat ontstaan.

Hoëvelder het in Generaal Bothastraat gesien hoe inwoners ’n konstruksievoertuig voorgekeer het, waarna die insittendes water met gemeenskapslede gedeel het sodat inwoners ten minste toilette kon spoel.

Inwoners in Generaal Bothastraat skep water uit ’n konstruksievoertuig tydens Ermelo se watertekorte
Gemeenskapslede in Generaal Bothastraat word bygestaan terwyl hulle bottels, emmers en houers met water vul uit ’n konstruksievoertuig tydens die voortslepende wateronderbrekings op die dorp. Foto: Wayne van der Walt

Inwoners het verder die plaaslike owerheid se kommunikasie rondom die ontplooiing van watertenkers gekritiseer.

Hoewel die plaaslike owerheid aangedui het dat watertenkers na geraakte gebiede ontplooi is, meen talle inwoners daar geen duidelikheid oor waar en wanneer water beskikbaar sou wees.

Vir kwesbare inwoners het die situasie toenemend moeilik geraak.

Lees die volledige berig in vandeesweek se gedrukte weergawe van die Hoëvelder

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button